Die eindelose stryd om enige vorm van dienslewering uit die plaaslike munisipaliteit te wurg duur voort terwyl motoriste daagliks deur dit wat oor is van hul paaie, ten koste van duursame motorbande, probeer navigeer.

Verlede week het Bulletin berig dat die 300 meter stuk van Minitzanistraat uiteindelik na weke se gesanik herstel is. Die Groter Tzaneense Munisipaliteit (GTM) het ‘n span soontoe gestuur ‘n dag nadat ons foto’s van daardie pad oor sosialemedia gepubliseer het. Dit het in totaal, 174 sakkies teer gevat om die enorme slaggate te vul, en tenspyte daarvan is daar steeds plek-plek nuwe krake en gate wat besig is om te vorm.

Intussen lyk die dorp se paaie soos ‘n lappieskombers met die enigste voordeel dat dit motoriste verhoed om die spoedgrens te oorskry.
Volgens die plaaslike raadslede word daar egter deurlopend instandhouding aan die paaie gedoen. Na bewering lê die fout by die verskaffer van koue teer en is daar tans ‘n te kort aan die sakkies teer as gevolg van ‘n vertraging in die aflewering deur die verskaffer.

Verlede week het ons die wyksraadslede gevra wanneer die res van die strate in die verskeie wyke herstel sou word en of daar enigsins ‘n plan is waarvolgens die strate wat die meeste verkeer dra, prioriteit kry bo die res. Een van die strate wat die dringenste aandag nodig het is Messerstraat verby Peacemed oppad Magic Build toe.

Op die 26ste April het ons die DA wyksraadslid Chrizelle Dreyer, oor Messerstraat uitgevra. Sy het ondersoek gaan instel. “Messerstraat is gevul met materiaal (bakstene en klippe). Ek het verduideliking van die waarnemende direkteur hieroor versoek en gevra wanneer dit waarskynlik reggestel sal word,” het sy gesê.

‘n Week later het ons weer navraag gedoen en ons wou ook weet wie die verskaffer van die teer is, en hoeveel een sakkie teer die belastingbetalers uit die sak jaag. “Ek het nog nie terugvoer van die departement af ontvang nie. Ek weet tans wag hulle vir asfalt van die verskaffer af. Daar was ‘n vertraging in aflewering van hul kant af. Ek het wel gesien dat hulle besig was om herstelwerk in Eerstelaan te doen.” het sy gesê. “Ek sal vrae skriftelik aan die Munisipale Bestuurder stel om in die volgende raadsitting te beantwoord en aan jou terugvoering gee.”

Op haar beurt het die DA Tzaneen Caucus leier, Rene Pohl, gesê dat sy wéér sou opvolg met die waarnemende hoof van paaie, Olga Tshiseve, om te hoor wat met die paaie in Aquapark gebeur. “Húlle het ‘n program wat gevolg word. Ek het vereis dat prioriteite eerste, en dringend gedoen word. Húlle het ook vir aflewering van teer gewag.”

Wanneer die ouditeurgeneraal se kommentaar oor die munisipaliteit se 2021/2022 finansiële verslag gelees word, is dit egter duidelik dat die swak dienslewering meer met swak beplanning en onkunde te doen het en minder met ‘n verskaffer se laksheid.
Intussen is al die raasdslede en direkteure wéér ‘n keer na Karibu Lodge toe vir ‘n vergardering.

>