Ben Vorster het die naweek naelskraap teen Ligbron Akademie in die Noordvaal Skild Liga die knieë gebuig. In een van die mees opwindendste Eerstespan-wedstryde wat in die laaste twee jaar op Tzaneen gespeel is, het Ligbron letterlik in die laaste paar sekondes van speeltyd oor die Vossies se doellyn geseil om die wedstryd met ‘n skrale punt (25-26) te wen.

Reënerige toestande op die dag het ‘n mate van frustrasie onder die spelers veroorsaak toe hulle met hanteerfoute gesukkel het weens die nat bal en selfs natter speelveld. Nietemin het die tuisspan die besoekers ‘n harde stryd aan-gesê en het die telbord ‘n gebalanseerde prentjie van die dag se spel uitgebeeld.

Die O/14A-spanne se wedstryd het die dag te midde van die reën, vroeg afgeskop. Ben Vorster se jong buffels het van die afskop af reeds die wedstryd oorheers en teen rustyd ‘n voorsprong van 12-7 gehad om te verdedig. Met hul terugkeer na halftyd het die Liggies hard terug baklei maar kon nie teen die eindfluitjie die mas op kom nie en moes met ‘n nederlaag van 17-12 tevrede wees.

Ligbron se O/14B-span het wel hul gasheer met 27-13 kaf gedraf terwyl die O/15A-span teen Ben Vorster met ‘n tel-ling van 14-29 verloor het. Op hul beurt het Ligbron se O/15B-span hul man gestaan en die Vossies met ‘n soortgelyke telling van 29-12 te klop. Nie een van Ben Vorster se O/16-spanne kon hul wedstryde wen nie met die A-span wat 5-23 verloor het terwyl die B-span met 3-10 gestuit is.

Ben Vorster se Derdespan het redelik gemaklik met 19-5 geseëvier terwyl die Nyatis (Tweedespan) na ‘n harde stryd met 29-22 as oorwinnaars uit die stryd getreë het.

Die hoogtepunt van die dag was die Eerstespan kragmeting wat skuins na 13:00 voor die hoofpawiljoen afgeskop het. Van die staanspoor af het beide spanne hul beste rugbystewels voorgesit en vir die grootste deel van die eerste helfde kon nie een van die spanne die ander baasraak nie.

Die eerste punte op die telbord was egter vir die Vossies deur die skopskoen van losskakel Divan Spangenberg in die laaste 13 minute na hy ‘n strafskop deur die mikke gestuur het. Ligbron het feitlik dadelik met ‘n drie reg langs die Vossie-pale na ‘n skrum geantwoord. Nog ‘n drie deur die besoekers het die rustydtelling op 13-3 in Ligbron se guns laat hang.

Die tweede helfte het ‘n heeltemal ander Vossie-span egter op die veld gedraf. Ben Vorster het gesorg vir drie verdoelde drieë in net bietjie meer as tien minute wat die skare op die hoofpawiljoen behoorlik die dak laat lig het. Ben Vors-ter se blitsvinnige agterlyn het die Liggies laat flikker en vir die res van die tweede helfde het dit voorgekom asof die besoekers net geen antwoord vir die aanslag kon bied nie.

Ligbron het wel in die laaste 15 sekondes ‘n pragtige drie in die linkerhoekie gaan druk om die telling 24-25 te maak met net een skop wat die verskil tussen wen en verloor sou wees. Met die eindfluitjie in die agtergrond het die bal wel deur die pale geseil om die oorwinning vir die besoekers met 25-26 te verseker.

Ben Vorster sal nou vir die volgende vier wedstryde weg van die huis af speel voor plaaslike ondersteuners weer die kans gegun sal word om die Rooies in aksie op eie bodem te besigtig.

Kyk gerus al die dag se wedstryde op ons FNBC Live Youtube-kanaal deur op die skakel hieronder te klik.

>