Shani Rudder, ‘n fietsryer van Tzaneen se omgewing, was deel van ‘n groep van 25 plaaslike fikses wat die Gravel Shaker Bergfietswedren by die Sondela Natuurreservaat in die omgewing van Bela-Bela aangedurf het.

Rudder, wie in die afdeling vir senior vroue gery het, was die eerste vrouedeelnemer wie die 110km roete die afgelope Saterdag die 20ste Mei voltoooi het. Sy het in die sewende plek algeheel klaar gemaak. Die hoofwedren was oor ‘n afstand van 160km beslis.

In verlede jaar se Gravel Shaker was Rudder die sesde vroue deelnemer wat die eindstreep bereik het. Vir haar was vanjaar se uitslag ‘n fantasiese uitslag om te behaal.

“My gevoel was dat ek vanjaar se wedren met meer ervaring en voorbereiding aangepak het. Die roete is baie verskillend van Tzaneen se omgewing met sy baie bulte, waar die Gravel Shaker se terrein baie meer plat is wat ‘n anderse benadering verg ten opsigte van voorbereiding.”

Rudder se naaste teenstander wat in die tweedeplek na haar geëindig het, Martie Joubert, het haar nie juis veel ruimte gelaat om te ontspan nie. Rudder se wentyd was 03:58:14 met Joubert slegs enkele sekondes later, met ‘n tyd van 03:58:25, in die tweedeplek.

“Die 110km wedren het in baie koue omstandighede begin, sowat 5 grade Celsius, en ek het die begin baie rustig aangepak. Ek het nieteenstaande ‘n vinnige genoeg pas gehandhaaf om die voorste groep fietsryers in te haal wat probeer wegbreek het.”

Sy het uiteindelik die voortou geneem wat sy op haar pas, ‘n rustige een soos wat Rudder agterna beskryf het, gehandhaaf.
“Sjoe, Martie was ‘n yster! Sy het die laaste ses na sewe kilometer my egter begin inhaal. Die laaste twee kilometer, net voor die ingang van Sondela Reservaat wat ‘n aantal kronkelpadtjies bevat, het Martie my ingehaal en ek moes alles gee om my voortou te behou. Die sekondes waarmee ek gewen het was die laaste bietjie krag wat ek gehad het. My teenstander was weliswaar ‘n yster, sy het hard baklei tot die einde.”

Rudder het ‘n passie vir buiteluglewe, en solank sy tyd op haar bergfiets of padwedrenfiets kan spandeer, is sy in haar element. Rudder het tydens die Covid-19 tydperk begin om bergfiets te ry.

“Ek het veral vir oefening, vir die plesier daarvan so-wel as die sosiale aspek begin om bergfietsry te beoefen. Ek het intussen ook betrokke begin raak met die organisering van oefenritte. Sedertdien het ons nie net meer sosiaal fiets gery nie, maar ook begin om vir wedrenne in te skryf. Ons was 25 plaaslike fietsryers wat die afgelope naweek se wedren by Sondela voltooi het.”

Rudder vertel dat sy eers vanjaar weer besluit het om tyd en leefstyl veranderinge te maak om weer kompite-rend aan fietswedrenne deel te neem.

“Dit vat baie tyd en dissipline in beslag om kompiterend deel te neem, veral as mens voltyds moet werk en jy verantwoordelike teenoor familie het. En bonop nog tyd vir oefening moet maak. Daarom is dit vir my belangrik om streng op myself te wees maar terselfdetyd dit geniet wat ek doen. As jy hardewerk nou in sit, gaan alles more makliker wees, ek glo in hierdie standpunt.”

Vir mense wat graag fietsry wil opneem as ‘n sport, is Rudde se raad die volgende:
“Fietsry bestaan 90 persent van die tyd uit oefeninge en 10 persent daarvan bestaan uit wedrenne waaraan mens deelneem. Word deel van gemeenskapsgroepe wat fietsrysessies aanbied.”

“Tussen elke groep is daar fietsryers met jare se ervaringe wat hulle meer as bereid is om met nuwelinge te deel. Daar is fietsryers met by die 20 jaar se kennis en ervaringe. Daag net op en word deel van die fietsrygemeenskap. As jy hierdie raad toepas, is jy verseker op die regte pad om wedrenne in die toekoms aan te pak.

Sy beoog om verder vanjaar aan die opkomende Magoeba Trek sowel as die Ride Joburg (voorheen 94.7 resies genoem) wedrenne deel te neem.

>