Die derde rondte van die Limpopo Skole XCO Bergfietskampioenskap het Saterdag die 29ste April op die sprokies-agtige landskap van Stanford Lake College plaasgevind.
Merensky Landbou Akademie het weereens ‘n aantal fietsryers gehad wat die uitdagende roete van die Stanford Lake-roete aangepak het.
Twee van Merensky se voorste bergfietsryers, Anke Rood en Sophia van Wyk, het weereens tydens hierdie rondte gewys waarom hul van dié landbou akademie se mees gerekende spanlede is.

Rood het uitstekend die speke van haar fiets laat sing om met die eersteplek in die Junior Vroue-afdeling te spog. Haar spanmaat, van Wyk, wie in die afdeling vir Jeug Meisies gery het, het ook ‘n uitstekende wedren beleef om die eersteplek te verower.
Xihlovo Mkansi het in die negendeplek in die Sub Junior afdeling vir seuns geëindig. Aeden Anderson het ‘n sesdeplek behaal waar hy in die afdeling vir Jeug Seuns deelgeneem het. Sy spanmaat, Wernich Steyn, moes in dieselfde afdeling met die 11de plek tevrede wees.

Hanré van den Berg het ook ‘n sesdeplek behaal, alhoewel hy in die afdeling vir Junior Mans gery het. Geané Anderson sal vir die volgende rondte alles in die styd werp om op haar vierdeplek te verbeter en ‘n podiumplek te verseker. Sy het in die afdeling vir Junior Vroue-afdeling deeltgeneem.
Die fietsryers berei nou voor vir die Limpopo Kampioenskap wat op die 13de Mei te Moorddrift in Mokopane se omgewing gaan plaasvind.
