couple posing for a portrait
Johan en Jennie Bester van Tzaneen wat nou wéér kanker in die gesig staar.

Toe Jennie Bester (48) ‘n jaar gelede kla dat haar tong seer is het sy gedink sy het moontlik haarself raak gebyt. “Ons het gebraai en ek was onder die indruk dat ek seker maar my tong saam met ‘n stuk braaivleis raak gebyt het of iets.” Selfs manlief Johan het by nadere inspeksie sy vrou se siening beaam, “dit het gelyk soos ‘n normale byt.”

‘n Week het verby gegaan en die bytmerk op haar tong het bloot nie genees nie – inteendeel vertel Jennie dat die pyn vererger het tot op ‘n punt dat sy haarself na ‘n plaaslike dokter gewend het vir verligting.

“Die dokter het vir my sterk antibiotika voorgeskryf en gesê ek moet terug kom oor ‘n week as die situasie nie verbeter nie. Daai volgende week het hy ‘n biopsie gedoen en dit weggestuur na die Universiteit van Pretoria toe waar hulle toe die kanker ontdek het,” vertel sy.

Dokters Dreyer en Rabie het ondersoek ingestel en gemerk dat haar kanker op fase twee was en haar dadelik Pretoria toe verwys vir ‘n operasie om die kanker uit te sny. Op die 19de Oktober verlede jaar het Jennie onder die mes gegaan en is die kanker wat op daardie stadium 3mm groot was, asook die limfkliere aan die regterkant van haar keël verwyder.

Jennie Bester (48)

“Volgens die dokters was die prosedure ‘n sukses en die biopsie wat hulle gedoen het, het gewys dat die kanker weg is en alles was volgens hulle skoon,” het Johan vertel. “My vrou sukkel om ordentlik te eet en elke nou en dan sukkel sy om sekere woorde mooi te vorm want daar is ‘n stuk van haar tong uit gesny en die spiere is saamgetrek en weer geheg. Maar sy cope daarmee en ons was verlig om te weet ten minste is die kanker nou weg.”

Jennie is gesê om elke tweede week die dokter te besoek vir ‘n ondersoek. Dit was na haar vierdie besoek wat sy weer die ondraaglike pyn begin voel het. Sy is terug dokter.

“Desember was als nog skoon. Maart was als nog skoon. Aan die einde van April het ek weer begin voel my tong is gevoelig en dit raak weer seer toe gaan ek terug dokter toe. Hy het vir my Panados gegee wat ek vier keer per dag moes drink en het gesê ek moet my mond gereeld met soutwater uitspoel.”

In Junie het die dokters haar meegedeel dat die kanker weer terug was en sy is in Julie terug Unitas toe. Die kanker is nou 7mm groot en sy moet wéér deur die trauma van ‘n operasie gaan. Die probleem is dat die mediese fonds nie alles dek nie aangesien haar eerste operasie so duur was.

Jennie is geskeduleer om Vrydag, die 4de Augustus weer geopereer te word. Haar kanker staan bekend as Oral Squamous Cell Carcinoma en dit is uiters ongewoon dat iemand wie nie rook of drink nie deur hierdie kanker aangetas word.

Die kwotasie wat daar gestuur is bepaal dat haar hospitaal onkostes ongeveer R380 000 sal beloop. Dokter Rabie se fooi is R50 806, daar is ‘n spesialis fooi van R37 527, die narkotiseur se fooi beloop ongeveer R49 700, dan is daar die plastiese en rekonstruktiewe chirurg se fooi van R98 528 wat ‘n totaal van R616 562 tot gevolg het. Die mediese fonds dek net R113 500.

“En dit is net vir die operasie en die hospitaal onkostes. Dit sluit nie die kostes in van die spraakterapie en die medikasie en die bestraling na die tyd nie. Ons weet nie meer wat om te doen nie, geen mens het sommer net vir ingeval ‘n half-miljoen wat net rond lê nie?” het Johan gesê, terwyl die frustrasie vlak in sy gemoed lê.

Intussen het familie hulself tot sosialemedia gewend in die hoop dat hulle genoeg fondse kan insamel om Jennie te help. Bure en selfs vreemdelinge in die gemeenskap het ook ingespring en daar is nou ‘n Backabuddy fonds gestig wat enige iemand in staat stel om finansieël by te dra.

Enige instansie of persoon wie moontlik kan help, kan asseblief vir Johan op sy persoonlike nommer by 079 021 1714 skakel. Klik op die skakel op hierdie bladsy om deur te gaan na die Back-a-Buddy blad waar jy direk en anoniem kan bydra. Lede van die publiek het reeds ook JakarandaFm se Good Morning Angels gekontak.

“Ons is so dankbaar vir die mense wat ons tot dusver te hulp gesnel het. Julle is ongelooflik en ons waardeer dit uit ons harte uit. Ons is werklik so dankbaar!”

>