André Hay, voormalige afrigter by Curro Heuwelkruin, is skielik hierdie week oorlede.

Skokgolwe het Donderdag die 20ste Julie in rugbykringe in Limpopo geheers toe die nuus bekend gemaak is dat die passievolle rugbyliefhebber en afrigter, André Hay oorlede is.

Hay het nie net diep rugbyspore in Tzaneen se kontrei gelaat nie, maar gaan ook ‘n groot leemte laat in Polokwane waar hy die laaste jare van sy loopbaan spandeer het. Hy was ondermeer die afrigter van Curro Heuwelkruin se eersterugbyspan sowel as die breier van die Kruinies Rugby Klub.

Tyron Thompson, een van Kruinies Rugbyklub se spelers kort na ‘n ligawedstryd aan die einde van Junie vanjaar, is hier saam met die span se afrigter, André Hay. Die alombekende rugbybreier is Sonderdagoggend die 20ste Julie oorlede.

Hay was een van die stigsterslede van die nuwe rugbyklub in November 2017 en danksy Hay se toegewydenheid tot rugby het Kruinies Rugby Klub in die Limpopo Amateur Ligakampioenskap ‘n krag geword om mee rekening te hou.

Sy kollegas en vriende by die privaatskool in Polokwane, Curro Heuwelkruin, sowel as Kruinies Rugby Klub (wat ook op die skool se terrein gevestig is) het met groot hartseer van sy afsterwe verneem.

Die skool het ‘n passievolle afrigter verloor wat vir elke span geleef het waar hy betrokke was en wie se kennis van die sport nie gekoop kan word nie. Hay sal herinner word as ‘n baie geliefde en gerespekteerde lid van die Kruinies se personeel vir die afgelope sewe jaar.

Selfs innige medelye aan Hay se naasbestaandes het vanuit die Blou Bulle Rugby Unie se geledere gekom en het veral baie agting verwerf vir sy rol as die voorsitter van die Limpopo Hoërskole Rugbyvereniging.

Hein Wagner en oom André Hay tydens sy tyd by die Hoërskool Ben Vorster.

‘n Voormalige rugbyafrigter van die Hoërskool Ben Vorster, Hein Wagner, het vir jare ‘n langpad met Hay gestap tydens die tyd wat hulle vir sowat 13 jaar saam by die Hoërskool Ben Vorster spandeer het, met Hay as die sport-organiseerder en Wagner as die eersterugbyspan se afrigter.

“Dit is hoe ek altyd vir André Hay sal onthou! Ek sal die duisende ure se saam afrig, rugbytoere en kantoorsit altyd koester en onthou! Daar is seker min afrigters wat saam meer kilometers in ‘n bus agter rugby aangery het vir 13 jaar lank”, het Wagner gesê.

“Saam met ‘n klomp spelers, ander kollegas en vriende het ons herinneringe vir ‘n leeftyd bymekaar gemaak en vrek baie gelag! Dit is great tye wat ek altyd sal koester en bewaar. André, jy was ‘n legende van die game en ‘n rugby-man deur en deur. Dankie vir die herinneringe! Rus sag ou vriend.”

Hay se afsterwe het selfs opspraak gewek van Supersport Schools Sport. Selfs vir die Hoërskool Ben Vorster se uithaler voormalige eerstespan speler en huidige Springbok stut, Trevor Nyakane.

Nyakane het dit as ‘n baie hartseer dag in sy lewe beskryf en dat hy vir Hay altyd in sy hart sal opdra vir die geleenthede wat hy vir hom op sy weg na sy rugbyloopbaan vir hom geskep het.

Nyakane en Hay loop al ‘n lang pad saam. Dit was immers Hay wat die Jonge Nyakane as ‘n graad 7 kannetjie opgemerk het. Nyakane was ‘n leerder by die Laerskool Gravelotte en hulle het ‘n rugbywedstryd hier op Tzaneen gespeel. Dit was toe dat Hay vir die toekomstige Springbok opgemerk het.

Hay het toe na verneming Nykane se ouers oorreed om hom vir sy sekondêre loopbaan na Ben Vorster toe te stuur. Die res is geskiedenis. Hay het ‘n groot rol gespeel om Nyakane na groter hoogtes te lei, iets wat Nykane nooit sal vergeet nie.

Teen druktyd is daar nog geen begrafnis of roudiens reëlings bekend gemaak nie en die oorsaak van Hay se skielike afsterwe is ook nog nie bekend nie.

>