Die familieboerorganisasie Saai het onlangs met ’n openbare veldtog begin om die onsinnigheid om die vuurwapenwet te wysig, hok te slaan.

Uit terugvoer van die Suider-Afrika Agri Innitiatief (Saai) se lede is dit duidelik dat boere nie nou gaan toelaat dat hulle ontwapen word nie. Die ANC se inisiatief om die besit van ’n vuurwapen vir doeleindes vir selfverdediging onwettig te maak, maak opslae in die landbougemeenskap.

Die familieboerorganisasie Saai het onlangs met ’n openbare veldtog genaamd #StillNoGun begin om die onsinnigheid hok te slaan. Dié veldtog is begin om druk op die polisie te plaas om sy jarelange agterstand in aansoeke vir nuwe vuurwapens, amnestie en hernuwings van bestaande vuurwapens uit te wis, en vuurwapens aan hul regmatige eienaars terug te besorg.

Die polisie het honderdduisende vuurwapens ingeneem om kwansuis ballistiese toetse daarop te doen, maar kon nog nie verduidelik hoe sulke toetse op haelgewere gedoen word nie. Boere is veral skepties oor die polisie se kapasiteit om dit te doen en hulle vermoë om die vuurwapens intussen veilig en versigtig te stoor.

“Teen ’n gemiddeld van ’n plaasaanval elke tweede dag en ’n plaasmoord elke vyfde dag oor die afgelope 25 jaar, bevind Suid-Afrika se boere hulle in onveilige omstandighede wat in elke opsig aan die definisie van ’n lae-intensiteit burgeroorlog voldoen,” het dr. Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van Saai gesê.

Boere glo dat die ANC sekerlik moet weet dat die regerende party self vanweë sy erfenis van liedere soos “Kill the farmer, kill the boer” en die flagrante ontkenning van die verskynsel van plaasmoorde deur onder andere president Cyril Ramaphosa, onder ernstige verdenking is.

Uit gesprekke met ambassades, besoekende parlementslede uit Europa, buitelandse joernaliste en digitale vergaderings met landbou-unies elders in die wêreld, blyk dit dat die hele wêreld frons oor die bisarre ontwapening van boere in die amnestieproses.

Dis veral in plattelandse polisiestasie stelsels waar daar geen kapasiteit, geen kundigheid, geen plan en geen wil is nie, waar boere bekommerd raak dat hulle hul vuurwapens nie weer gaan terugkry nie. Die parlementêre portefeuljekomitee het ook onlangs die polisie uitgevang dat die sentrale vuurwapenregister in absolute chaos verval het.

In hierdie omstandighede wil die polisie boonop selfverdediging as ’n motivering vir die besit van ’n vuurwapen skrap. Elke akademiese studie oor die onderwerp oor die afgelope twee en ’n half dekades, alle navorsing deur institute, universiteite en selfs van die staat self, sowel as AfriForum se omvattende data oor plaasaanvalle en plaasmoorde, is dit eens dat ’n plaasgesin se vermoë om ’n plaasaanval te oorleef allereers gegrond is op hulle gereedheid om terug te skiet en deur selfverdediging tyd te koop vir die buurtwag en moontlik die polisie om op die toneel op te daag.

Saai gaan hande vat met ander organisasies wat ook veldtogte van stapel stuur om wetsgehoorsame mense se reg in stand te hou om te midde van weghol-misdaadstatistieke lewens, gesinne en huise te verdedig.

In Saai se veldtog betrek die organisasie ook Suid-Afrikaners en vriende van Suid-Afrikaners in die buiteland, asook ambassades, buitelandse regerings en internasionale agentskappe. Lees verder op http://www.still-nogun.co.za vir meer oor hierdie veldtog. Of nog beter, volg die skakel en gooi jou gewig ook agter die beweging in.

>