Riekie Smit is Saterdagmiddag na ‘n lang stryd teen kanker oorlede. Sy was 59-jaar oud ten tye van haar afsterwe en laat haar man Koos, dogter Nadine, skoonseun, Gericke en kleinkinders Liam en Xander na.

Riekie is op die 14de Mei 1963 op Rustenburg gebore waar sy haar skoolloopbaan voltooi en later verpleegkunde gaan studeer het. Dit is hier waar sy vir Koos ontmoet en in 1984 getrou het. Die paar het Tzaneen toe verhuis waar Koos by Old Mutual as makelaar aangestel is en Riekie by een van die dokters se spreekkamers in diens geneem is.

Na Nadine se geboorte, het Riekie vir twee jaar by die huis gebly om na haar dogter om te sien. Sy het in daardie tyd vir Koos met sy admin werk gehelp. Dit sou die begin van ‘n leeftyd saam in besigheid wees. Van daar af het Riekie haar man bygestaan in elke een van sy besighede wat hy op die been gebring het.

Al die planne en drome wat Koos gehad het, het Riekie die admin agter mekaar gekry en dit prakties uitvoerbaar gemaak. Sy het later die posisie as hoof van finansies ingeneem.

Sy sal onthou word as die persoon wie nooit die middelpunt wou wees nie en het verkies om eerder onder die radar te werk. “Maar mens kon egter haar hand in alles sien,” het die gesin gesê.

“As daar funksies gereël moet word, sal sy die een wees wat seker maak daar is ‘n oulike kreatiewe geskenkie op die tafel. Met personeel vergaderings, het sy seker gemaak dat daar ‘n mooi boodskap met ietsie wat saam gegee word om te onthou van die boodskap. Sy het ‘n passie gehad vir mense en altyd probeer help waar sy kon.”

Riekie was baie betrokke by Helpende Hand, waar sy haar passie om mense te help en veral om kinders te laat verder studeer, uitgeleef het. Sy was sag maar baie ferm en regverdig en was diep gelowig.

“Sy was op haar gelukkigste in die tuin tussen haar plantjies en saam haar kleinkinders. Sy was ‘n bok vir sports en altyd reg vir ‘n uitdaging, of dit nou om saam haar dogter die “rides” te ry by die skougronde, saam die kleinkinders by die grasbult af te rol, of saam met die jong klomp by die werk “beerpong” te speel; sy het voluit gelewe met passievolle vreugde en vrede.”

In 1999 is Riekie met borskanker gediagnoseer waarvan sy herstel, en in remisie was vir 21 jaar. Aan die einde van 2020 is long kanker gediagnoseer. Na ‘n operasie en ‘n reeks chemo behandelings was die kanker in remisie vir vyf maande, maar aan die einde van November 2021 het die kanker teruggekeer en baie vinnig versprei.

“Sy het verskeie chemo behandelings gehad wat nie een gewerk het nie. In Julie het ons uitgevind die kanker het versprei na haar brein toe, sy het bestraling ontvang wat in ‘n mate gehelp het maar die kanker was toe reeds te vêr versprei. Sy het tot op die einde haar waardigheid gehou, en is Saterdag oggend baie sag na die Here toe, omring deur haar geliefdes.”

>