Die atletiekspan van die Hoërskool Merensky het op Vrydag die 25ste Februarie in Polokwane aan die jaarlikse Interhoër byeenkoms hul slag getoon en hul goed van hul taak gekwyt deur die tweedeplek algeheel te beklee.
Die Interhoër was vanjaar deur die Hoërskool Pietersburg (PHS) aangebied en dit was die gasheerskool wat as algehele wenners gekroon was. Die pogings van Merensky se atlete was geensins te versmaai nie en het baie goed vertoon om uiteindelik met die tweedeplek beloon te word.
Groot was die vreugde in die Merensky-kamp toe twee van die span se atlete, die trotse niggies Klara Pretorius en Sophia van Wyk, onderskeidelik die Senior en Junior Victrix Ludorums vir hul prestasies ontvang het.
Dié twee niggies het ook met die Beste Baan Atlete krone weggestap. Pretorius is die Beste Senior Meisies Baan Atleet en van Wyk was as die Beste Meisies Junior Baan Atleet aangewys. Die toekenning vir die Beste Seuns Junior Baan Atleet was ook aan ‘n Plasie-atleet, Leon de Lange, oorhandig.
Volgens Louis du Preez, bemarkingsbestuurder van Merensky, het dié skool se atletiekspan vanjaar aan agt byeenkomste deelgeneem. In syfers het die span sowat 3 160km per bus getoer en ‘n totaal van 392 medaljes verower.
Tydens die PUK-byeenkoms te Ruimsig op die 21ste Februarie, het Merensky ‘n eersteplek verower in afdeling 6 van hierdie byeenkoms. Die atlete het 29 goue, 39 silwer en 19 bronsmedaljes by hierdie byeenkoms verower.
De Lange wie ook by Vrydag se Interhoër byeenkoms presteer het, was ook by die PUK-geleentheid as die Junior Victor Ludorum Atleet gekroon. Pretorius het met haar 100m hekkies-item 881 ASA punte verdien.
Hoërskool Merensky se atletiek kan vorentoe net van krag tot krag gaan nadat hierdie skool onlangs ‘n atletiekklub gestig het om die skool se atletiek verder te bevorder.