Linda de Nysschen is ‘n leerkrag wat mens nie sommer vlak aan kyk nie. Wanneer sy nie Afrikaanse klasse vir skoliere van die Laerskool Dr Annecke gee nie, dan is sy besig om een of ander uitmergelende sportsoort aan te durf.

Dis wat sy immers hierdie afgelope naweek gedoen het toe sy aan die 2022 Isuzu Ironman-kompetisie in die Nelson Mandela Baai deelgeneem het, en bonop met klinkende sukses voltooi het.

De Nysschen was egter effens teleurgesteld omdat die organiseerders op die dag van die byeenkoms die swem-afdeling van die kompetisie moes aflas. Dit weens ongure weersomstandighede wat rowwe seegolwe veroorsaak het en dit te gevaarlik vir die deelnemers sou maak om te kan swem.

“Hierdie is my eerste volwaardige Ironman kompetisie. Ek het al voorheen aan Ironman kompetisies deelgeneem waar ek slegs vir die half-afstand afdeling ingeskryf het. Ek het hard vooraf geoefen om fiks en voorbereid te wees.”

Sy het nietemin vir haar eerste poging die 25ste vroue deelnemer oor die eindstreep geword en die sesdeplek in haar afdeling vir vroue tussen 35 en 39 jaar oud beklee.

Die Antjie onnie het die Ironman in ‘n tyd van 10 ure, 23 minute en 24 sekondes voltooi. Sy het die fietswedren van 180,2km se eindstreep in 06:23.33 bereik vanwaar dit haar ‘n tyd van 03:54.45 geneem het om die marathon seksie kaf te draf.

“Ek is baie tevrede met my deelname, nie sleg vir ‘n eerste probeerslag nie. Net jammer hulle moes die swem afstel, maar dit het soveel gereën dat ek in elk geval net so sopnat op my fiets was as wat ek sou wees as ons sou geswem het”.

In Mei beplan sy om wéér ‘n Ironman-kompetisie aan te durf, alhoewel sy vir nou eers beplan om vir die half-afstand-weergawe in te skryf.

Afgesien van die Ironman-byeenkoms het De Nysschen onlangs ook ‘n tweedeplek in die gewilde Ebenezer Myl swembyeenkoms losgeswem. Later die dag het sy die 3000m afstand geswem waar sy die eerste vroueswemmer terug by die eindstreep was en die derde swemmer algeheel om hierdie afstand klaar te maak.

>