
Luan Steenkamp, gholfspeler van Tzaneen Buiteklub, het die afgelope Saterdag en Sondag die 14de en 15de Augustus op Bela-Bela in die jongste rondte van die Limpopo Golf Unie se amateurkampioenskap genaamd die Toshiba Beker, die 2021 Elebula Opetoernooi ‘n puik oorwinning behaal om sodoende ‘n aantal gedugte teenstanders op hul neuse te laat kyk.
Die eerste rondte op die Saterdag was op die baan van die Elements Private Gholf Reservaat gehou, met
die tweede rondte wat op die baan van Zebula Gholf Landgoed en Spa gespeel was.
Die gure weersomstandighede was egter nie so plesierig vir die deelnemende spelers nie, inkluis vir
Steenkamp, wie al hul ervaring aan die dag moes lê om mededingende tellings aan te teken.
“Die eerste rondte op Elements was baie taai, met die wind wat teen sowat 25km/h gewaai het, en yskoue weer om te trotseer, het ek ondanks dié omstandighede na die eerste 18 gaatjies ‘n voorsprong
van twee houe gehad.”
In die eerste rondte het Steenkamp sowel as menige ander deelnemers gesukkel in die winderige toestande, maar hy het nieteenstande uitstekend kopgehou om met ‘n telling van +5 wat ‘n voeltjie op die 14de gaatjie ingesluit het, te eindig.
“Die laaste rondte op die Sondag by die Zebula-baan, het die weer heelwat beter daarna uitgesien as die vorige dag, soveel so dat ons in die namiddag sonskyn weer gehad het.”
“Ek het op die eerste nege gaatjies 36 houe gespeel wat gelyk is aan die baansyfer, maar in die laaste nege gaatjies het ek die eerste nege opgevolg met drie houe onder die baansyfer deur 33 houe te speel.”
Waar Steenkamp met ‘n aantal brouhoue weens die ongunstige weer die vorige dag moes saam leef, het die Tzaneense gholfspeler tot sy reg gekom in die tweede rondte deur nie minder as vyf voeltjies aan te
teken en ‘n telling van -3. Dit het gehelp om ‘n soete oorwinning, met ‘n algehele wentelling van +2, te vier.
“Albei bane is maar aan die droë kant hierdie tyd van die jaar, maar die setperke was in goeie toestand en lekker vinnig. Die toernooi is baie goed gereël en ek sien uit om in die toekoms weer in hierdie toernooi te kan speel”.
Steenkamp beklee tans die tweedeplek op die Toshiba Beker se rangleer met 2490 punte na sy oorwinning dié naweek. Die voorlooper is steeds Jannie Bronkhorst van Polokwane Gholfklub wie 3020 punte sovêr opgestapel het.
Die volgende rondte op die kalender is die Sesambos Ope Toernooi op Swartwater by die Sesambos Gholfklub. Hierdie toernooi sal vanaf die 4de tot die 5de September gespeel word.