Hier is van Tzaneen Veerpyltjieklub se spelers wie eersdaags aan die SA Kampioenskap in Bloemfontein gaan deelneem. Hulle is Jaco van den Bergh, Tinus Jacobs en Cameron Jacobs. Foto's: Roelof de Jonge

Daar heers tans groot opgewondenheid onder die spelers van die Tzaneen Veerpyltjieklub wie eersdaags Limpopo by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in die Vrystaat op Bloemfontein gaan verteenwoordig.

En met hierdie aankondiging het die veerpyltjiespelers geskiedenis vir Tzaneen en die klub gemaak deur vir die eerste keer nege spelers te hê wat Limpopo sal verteenwoordig. Dis nou nadat hulle na ‘n aantal jare onder Polokwane se vaandel uiteindelik afgestig het en nou as ‘n onafhanklike klub by die Limpopo Veerpyltjie Vereniginging geaffilieer is.

Bulletin het Woensdagnag met die klub se president, Tinus Jacobs, gesels oor hul voorbereidings vir die opkomende nasionale toernooi, asook die nuwe heenkome wat die klub sedertdien as ‘n tuiste bekom het.

“Danksy die goedhartigheid van Fritz van der Merwe, die eienaar van JackRabbit Backstreet Sports Bar and Grill, het ons klub nou ‘n permanente vesting waar ons bymekaar kan kom. Ek is weliswaar baie opgewonde oor ons toer na Bloemfontein.”

Die tuiste Tzaneen Veerpyltjieklub is hedendaags by die JackRabbit Backstreet Sports Bar and Grill gevestig. Hier is Jaco van den Berg, president Tinus Jacobs en Cameron Jacobs besig om te speel.

“Die toernooi gaan van die 4de tot die 8ste Oktober gehou word. Die feit dat ons vanjaar as ‘n onafhanklike klub met ons eie spelers na die SA kampioenskap toe gaan, maak my baie opgewonde en trots.”

Volgens Jacobs gaan die toernooi op die 501-formaat beslis word. Na afloop van die toernooi gaan daar ook geleentheid wees vir klubs om teen mekaar te speel. Jacobs se vrou, Anne, en sy seun Cameron, is ook deel van Limpopo se span wat in geheel uit sowat 18 spelers bestaan.

Die ander spelers vanuit Tzaneen wie Limpopo gaan verteenwoordig is Daniel Nortje, Dawid Herbst, Trevor en Lindi Vorster, Attie Möller en Jaco van den Bergh. Die wat sou belangstel om by Tzaneen Veerpyltjieklub betrokke te raak, kan gerus vir Thinus Jacobs by 076 7533 532 skakel.

>