Jennie Bester sit in spanning en wag op die dokters voor haar operasie.
Jennie Bester sit in spanning en wag op die dokters voor haar operasie.

Jennie Bester (48) is gister (Donderdag die 24ste Augustus) in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria geopereer. Hierdie is die tweede operasie wat sy ondergaan om kanker uit haar tong te verwyder. Bulletin het met haar man, Johan Bester, telefonies in gesprek getree en volgens hom is die operasie na 12 ure in teater, ‘n sukses gewees.

“Die dokters het laat weet dat hulle gelukkig met die uitkoms van die operasie was en die ‘flappe’ op haar tong werk. Ek weet nie mooi wat dit beteken nie, maar dit is goeie nuus en ons is verlig.”

Jennie is 08:00 die oggend in teater toe en is daardie aand 21:30 in die hoësorg eenheid ingebring. Voor die operasie het die dokters met hul ondersoek kanker in ‘n gedeelte van haar onderkaak ontdek en moes Johan toestemming verleen dat hulle daardie gedeelte van die kaak ook verwyder.

“Dit was vir my ‘n baie harde besluit om te maak want dis my vrou wat daar lê en aan wie hulle so moet sny, maar ek glo dat sy daardie selfde besluit vir my ook sou maak,” het Johan gesê. “Dit is beter dat hulle alles skoon kry wat hulle kan, terwyl hulle daar besig is, sodat ons hierdie hoofstuk kan toemaak en aan beweeg met die herstel en die terapie wat nog vir ons wag.”

Vanoggend (Vrydag die 25ste Augustus) het ons weer met Johan kontak gemaak en hy het gesê dat Jennie vanoggend weer in teater toe moes gaan om ‘n aar wat bloed aan haar tong verskaf, blykbaar oop moes maak nadat dokters gemerk het dat haar tong nie bloed ontvang nie. Teen druktyd het Johan nog vir sy vrou gewag en was daar geen nuwe verwikkelinge nie. Ons sal ons lesers op hoogte van sake hou.

>