
Op die 7de Junie hierdie jaar het Bulletin se verslaggewer, Roelof de Jonge, op die sypadjie in Voortrekkerweg buite Tzaneense Lifestyle Sentrum sy kamera uit sy sak gehaal. Aan die oorkant van die snelweg het hy ‘n massiewe bos opgemerk wat langs die pad in die vorm van ‘n menslike vuis met ‘n uitgestrekte middelvinger groei en wat na aankomende verkeer wys.

So amper asof dit ‘n middelvinger is wat in die gesig van elke belastingbetaler wat soggens Voortrekkerweg gebruik om werk toe te gaan, gegooi word.

De Jonge het nader aan die bos beweeg en gemerk dat dit ‘n lamppaal is wat heeltemal toe gegroei het. Hy het die middelvinger-bos afgeneem en ons het dit op ons voorblad publiseer.
Neem in ag dat Voortrekkerweg dieselfde pad is wat die munisipale amptenare gebruik om elke oggend vanuit hul groot huise op Tzangeni na die Withuis in Agathastraat te pendel. Die einste Withuis waar daar vergardering op vergardering elke dag gehou word om kwansuis dienslewering te verbeter.
Meer as ‘n maand later, op Maandag die 24ste Julie (vandag) het die munisipaliteit uiteindelik dit goed gedink om die lamppaal van sy groen kleed te verlos. En dit ook eers nadat beide die Vryheidsfront Plus asook die DA die saak onder die stadsklerk se aandag gebring het.
Dalk die skokkendste deel van hierdie hele storie, is dat die lamppaal moontlik jare-lank toegegroei het sonder dat selfs die wyksraadslede of die instandhoudingsafdeling van die munisipaliteit se pad-spanne die probleem opgemerk het. Die Verkeersdepartment het egter baie vinnig reageer om die onwettige advertensieborde wat feitlik teenaan hierdie lamppaal opgerig was, te verwyder. Dit sal interessant wees om te sien hoe lank dit die wyksraadslede vat om die ander groot klap in die belastingbetalers se gesigte regtestel.