Tzaneen se munisipale swembadkompleks in Crownstraat (Wyk 15) is na agt jaar en R17 miljoen van die belastingbetaler se geld, steeds nie operasioneel nie. Bulletin het in 2015 vir die eerste keer oor hierdie swembad debakel “Poolgate” berig. Ons het hierdie week weer die nes gaan skud.
Die swembadkompleks word op die oomblik deur die swemklubs onderhou en opgeknap voor groot byeenkomste.
Om die omvang van hierdie situasie ten volle te begryp, moet die agtergrond in die geheel van die Groter Tzaneense Munisipaliteit (GTM) se nutteloosheid en absolute onbeholpenheid eers weergegee word.
In 2015 was die plan om Tzaneen se spoggerige nuwe munisipale swembad op die 3de Oktober amptelik te open. Dit na die munisipaliteit die bestaande swembad ten koste van R17 miljoen totaal en al herbou het, asook nuwe aanbouings (waaronder ‘n nuwe pawiljoen wat sitplek vir 400 mense kon bied), en terreinverbeterings aangebring het.
Lewensredders
Die swembadkompleks kon wel nie op die 3de Oktober ge-open word nie want daar was blykbaar nie lewensredders beskikbaar nie. Dit ten spyte daarvan dat die plaaslike swemklub aangebied het om hul senior swemmers se dienste aan die munisipaliteit beskikbaar te maak oor naweke.
Die GTM het toe in Januarie 2016 ‘n bedrag van R86 000 spandeer om twee swemafrigters vanuit KwaZulu-Natal op te vlieg Tzaneen toe, om drie van hul werkers te leer swem, en dan ook die basiese funksies van lewensredding te leer. Hierdie ses maande oefening het veroorsaak dat die belastingbetaler glad nie die swembad kon benut nie. Dit het ook beteken dat groot byeenkomste nie daar aangebied kon word nie.
Die situasie is vererger deur die woordvoerder van die GTM, Neville Ndlala wat in een mediaverklaring die bestaan van hierdie lewensredder-program beide ontken, en later gestaaf het. Die kandidate vir die program was arbeiders uit die munisipaliteit se verskeie departemente wat belowe is dat hulle met ‘n paar swembrille verskaf sou word en al wat hulle moes doen, is net opdaag.
Daar was oorspronklik vier kandidate, maar een van die manne het onttrek op die dag toe hy besef hy moes sy eie swembroek verskaf en dat daar van hom verwag sou word om in die swembad te klim. Die drie kandidate wie toe uiteindelik die program voltooi het, het intussen soos mis voor die son verdwyn.
Bulletin het ‘n video gemaak tydens die lewensredders se swemlesse wat op ons webtuiste, asook op ons Facebook-blad besigtig kan word deur op die skakel te kliek.
Die groot lek
In Augustus 2016 is daar ontdek dat die nuut-geboude swembad lek. Die lek was so groot dat die munisipaliteit die hele swembad moes uittap om die lekkasie stop te sit. Hierdie was so ‘suksesvol’ dat die swembad ses maande later steeds nie bruikbaar was nie.
VJ Singh
In Maart 2017 het die GTM ‘n man by name, Vikramjith “Vicky” Singh (60) as die hoof van die munisipale swembadkompleks aangestel. Bulletin het ondersoek ingestel en in Singh se verlede gedelf en bevestiging het dat hy die voormalige hoof van die Joan Harrison swembadkompleks in Oos-London was voor hy uit sy pos verwyder is oor hy na bewering duisende Rande se ingangsfooie by die swembadkompleks se hekke gesteel het.
Bulletin se ondersoeke het ook die feit ontdek dat Singh twee strandhuise ter waarde van R750 000 elk in 2011 aangekoop het. Singh is deur die Valke ondersoek en aangekla van finansiële wanbestuur. Teen die tyd wat Singh deur die GTM aange-stel is om die Tzaneense swembad te bestuur, was sy saak nog voor die hof. Ndlala het destyds die aanstelling gestaaf en gesê dat die GTM nie bewus was van Singh se verlede nie. ‘n Paar maande later het Singh uit Tzaneen verdwyn.
R30 000 vir kassiere
In dieselfde jaar het die GTM twee poste vir kassiere adverteer. Die twee kandidate sou aangestel word om by die ingangshekke van die swembad te sit en die kaartjieverkope te hanteer. Die maandelikse salaris van hierdie kassiere sou R30 000 per maand wees. Dit het nooit gebeur nie en het as die nuwe verskoning oor waarom die swembad nie vir die publiek toeganklik was nie.
Die publiek moes hul kaartjies direk by die munisipaliteit gaan koop en kon ook nie op naweke so doen nie. Daar was ook nie lewensredders aan diens nie, so die publiek kon in elk geval nie gaan swem nie.
Vyf Jaar later
Tot op hede (2023) is daar steeds geen permanente lewensredders by die Tzaneense swembad aangestel nie. Singh se pos staan steeds vakant en die publiek kan steeds nie die swembad geniet nie. Ons het hierdie week vir Ndlala gevra wat aangaan daar en hy was van mening dat die swembad huidiglik toe is, as gevolg van die wintermaande wat oppad was.
“Die swembad is tans om twee redes gesluit,” het hy gesê. “Dis die wintervakansie, ons sluit gewoonlik vanaf April en heropen in September. Tweedens; ons het tans nie lewensredders nie. Meneer Singh het ‘n tyd gelede vertrek en nog ‘n lewenswag is gewerf en sy kontrak het ook verstryk. Daar is besprekings oor die uitkontraktering van die swembad aangesien dit vir GTM duur is om die fasiliteit te bestuur. Wanneer die roete van uitkontraktering amptelik aanvaar word, sal dit geadverteer word.”
Luidens André Moss van die Vryheidsfront Plus sal die skuif na privatiseering, indien dit wel volgens die regte kanale geskiet, en indien die regte organisasie die bestuur van die swembad oorneem, dalk ‘n beter opsie vir die plaaslike gemeenskap wees.
“Die swembad word wel reeds uitverhuur aan swemklubs vir sportgeleenthede. Wanneer belastingbetalers se geld aangewend word vir ‘n openbare gerief, moet hulle daarby kan baat vind,” het Moss gesê. “In hierdie geval faal die munisipaliteit die inwoners van Tzaneen. Die VF Plus sal die saak opneem met die munisipale bestuurder, Donald Mhangwana, en voorstel dat privaat instansies ’n geleentheid gegun word om die bestuur van die dorpswembad oor te neem. Sodoende kan ‘n inkomste vir die munisipaliteit gegenereer word en kan inwoners die swembad benut waarvoor hulle ten duurste betaal het.”
Die DA Tzaneen Koukus leier, René Pohl, het op haar beurt gesê die blote feit dat die munisipaliteit se enigste oplossing – na sewe jaar se onsuksesvolle pogings om een van hul eie instansies te bedryf – is om die instansie aan ‘n privaatmaatskappy of organisasie uit te kontrakteur, plaas hul onbevoegdheid wéér in die kollig. Pohl het saam met Bulletin sedert die begin van die swembadprojek geveg om te keer dat die swembad nie tot niet gaan nie.
“Weereens, erken en bevestig die GTM dat húlle totaal en al onbevoeg en wanfunksioneel is. Die plaaslike swemklub het destyds die munisipaliteit genader om seker te maak dat die projek suksesvol aan die publiek se behoeftes voldoen, veral omdat swem een van die gewildste sportsoorte in Tzaneen is. Die swemklub het al menige SA swemmers opgelewer,” het Pohl gesê. “Hulle sou opgeleide en betroubare lewensredders voorsien, skoolkompetisies reël, en selfs Nasionale swemkompetisies wat Tzaneen ‘n uitstekende ekonomiese inspuiting sou gee en ook op die Nasionale kaart plaas. Weereens wou hulle totale beheer uitoefen. Ons kan net duim vashou dat ‘n bevoegde kontrakteur aangestel word wat ‘n deskundige op die gebied is.”
Intussen bly die swembad gesluit vir die publiek. Die media word gestop om in te gaan en videos te skiet, en die sekuriteitswagte word elke dag betaal om musiek te luister en hoenderboudjies te eet.