Die Hoërskool Ben Vorster se O/18 netbalspan het Dinsdagmiddag met ‘n enkele doel hul plek in die Limpopo Mini-Wêreldbeker verseker. Dit na die Vossies teen Merensky in die eindstryd van die Mopani Mini-Wêreldbeker op die Blouskool se bane geseëvier het.
Ter bewusmaking en viering van die 2023 Netbal Wêreldbeker wat vanjaar in Kaapstad plaasvind, het hoërskole vanuit die Mopani Distrik op Dinsdag die 14de Maart aan Mopani se Mini-wêreldbeker Kampioenskap deelgeneem.
Bulletin het die geleentheid bygewoon waar tientalle O/15 en O/18 meisiesspanne die stryd gevoer het. Merensky Landbou Akademie se netbalterrein was behoorlik ‘n miernes van netbalspelers en ondersteuners.
Die hoofwedstryd van dié kampioenskap was die eidnstryd tussen die O/18 meisies van Merensky Landbou Akademie en die Hoërskool Ben Vorster. Hierdie twee spanne het deurentyd in die eindstryd skitter spel gelewer wat hul ondersteuners so byna na kalmeerpille laat hunker het.
Daar was min te kies tussen die Plasies en die Vossies met beide spanne wat deurentyd met ‘n doel voorgeloop het. Dit was uiteindelik Ben Vorster wat met ‘n enkele doel, 15 doele teen 14, hul plek vir die Limpopo Mini-wêreldkampioenskap bespreek het.
Die wenners van hierdie distrik kampioenskap dring deur om aan die Limpopo uitspeelrondte in Polokwane deel te neem. Dié wenners van die provin-siale kampioenskap sal die geleentheid hê om aan die nasionale kampioenskap deel te neem.
Elke skolespan het ‘n land verteenwoordig wat aan die ware wêreldbeker gaan deelneem. Bulletin sal ‘n volledige verslag oor die toernooi saamstel en al die spanne bekend maak wat na die Limpopo Mini-wêreld Kampioenskap deurgedring het.