Die Rooimasjien was Woensdag, 1 Maart in ‘n riller-stryd teen veral Jeugland en Eldoraigne betrokke wat vir van die spannendste hoërskool atletiek in die laaste paar jare gesorg het. Hoërskool Ben Vorster het vanjaar die jaarlikse NWU-Super Interhoër atletiek byeenkoms op die historiese Pilditch-stadion in Pretoria aangebied.

Tzaneen se top sportskool het in Groep 4 van hierdie gesogte byeenkoms deelgeneem en moes uithaal en wys om uiteindelik die tweede plek te neem, ‘n skamele 14 punte (837) agter die wenners Jeugland (851) en slegs 26 punte voor Eldoraigne (811).

Rob Ferreira uit Witrivier in Mpumalanga (799.5), Hugenote (695.5), Potchefstroom Volkskool (663), Driehoek (657) en Linden (651) het goeie vertonings gelewer op die dag maar het gesukkel om kers vas te hou met die drie voorlopers wie mekaar behoorlik in die opwindende aflosse die stryd om die kroon aangesê het.

Soos verwag het die aflosse ‘n paar onvermoede ontsteltenisse opgedis, met van die gunstelinge wie die aflosstokkie by die oorhandiging laat val het en dus ‘n diskwalifikasie tot gevolg gebring het. Hierdie het veroorsaak dat die byeenkoms se voorlopers, Eldoraigne, in die derde plek in geskuif het en die geveg om die kroon deur Ben Vorster en Jeug-land hervat is.

Dit was veral die Vossies se blitsvinnige Damian Bye wie die skare op hul voete gehou het met sy tyd van 10.98 in die 100m vir seuns O/17.

Ben Vorster se sterkste veld-item was verseker die verspring met Kian Lotter wie gesorg het vir ‘n eersteplek in die seuns O/14 verspring met sy afstand van 5,59 meter. Lesego Malatji het in die seuns O/15 verspring item nog ‘n goud vir Tzaneen ingepalm met sy wenafstand van 6,00 meter. In die verspring vir seuns O/17 was dit die Vossies se Theto Maake wat die eersteplek behaal het met ‘n pragafstand van 6,43 meter.

Tristan Buglass het vir oulaas sy deel vir skole atletiek gedoen met ‘n welverdiende tweede plek in die seuns O/19 verspring item met sy afstand van 6,41 meter.

In die gewigstoot het die Rooies glad nie sleg gevaar nie en het Cohen Janse van Vuuren goud in die seuns O/14 ouderdomsgroep behaal met sy afstand van 13.38 meter. Die staatmaker Megan-Lee Mans het weereens haar kompitisie uit die sirkel uitgedryf met haar afstand van 12.95 in die dogters O/17 gewigstoot item. Mans het verder gestoot as die naaswenner in die seuns O/19 item.

Mans het later in die dogters O/17 werpskyf item haar kompitisie heeltemal verpletter met haar wen afstand van 35,93 meter. Die naaswenner in hierdie item was Zandri Nel van Eldoraigne met ‘n afstand van 30.07 meter.

Duan Smith het in die spiesgooi vir seuns O/14 ‘n wen afstand van 39,27 meter gegooi om nog waardevolle punte by die Vossie telling te voeg.

Aan die einde van die dag was dit die aflosspanne wat die telbord laat swaai het met Ben Vorster, Eldoraigne en Jeugland wat met slegs agt punte geskei was toe hul spanne die baan betreë. Beide die 0/14 seuns en sogters het hul aflosse gewen met die O/15 seuns en sogters wat derde en vyfde onderskeidelik oor die lyn geseil het.

Die Vossies se O/16 dogterspan het in die vierde plek geëindig met die seuns in derde. In die O/17 aflosse was dit Jeugland wat die dogters item ingepalm het met Eldoraigne in tweede en Ben Vorster in die derdeplek.

Die seuns het beter gevaar met Ben Vorster wat naelskraap tweedeplek ingeneem het agter Rob Ferreira. Damian Bye het sy alles gegee om die Rob atleet se vyf meter voorsprong te verkort na slegs ‘n vyfde van ‘n sekonde. Sou die baan ‘n meter langer gewees het, sou die Vossies die goud opgeraap het.

Die term “haar breedte” het nog nooit soveel gewig gedra soos in die 0/19 seuns en dogters se aflosse nie. In die dogters item het Eldoraigne eersteplek gevat in ‘n tyd van 50.46 sekondes met Ben Vorster in die tweedeplek in 50.97 sekondes.

Die 0/19 seuns het gesorg vir die grootste opwinding van die dag met Rob Ferreira in eersteplek in 42.75 sekondes en die Vossies in tweedeplek in 42.79 sekondes. Letterlik ‘n haarbreedte het die twee naelopers geskei.

Jan van Staden, die hoof van die Vos-sies, het al die skole bedank vir hul deelname en insette om die 2023 Super Interhoër ‘n sukses te maak.

In Februarie vanjaar het Hoërskool Merensky hul NWU-Super Interhoër Groep 5 byeenkoms gewen. Dit beteken dat Merensky volgende jaar in Groep 4 teen Ben Vorster sal deelneem vir die eerste keer in baie jare. Dit gaan voorwaar ‘n baie interessante 2024 seisoen wees.

>