Die eindstryde van die Limpopo Blou Bulle Hoërskole Rugby Vereniging vir Afdeling 2 is die afgelope Saterdag die 23ste Julie by die Hoërskool Merensky beslis. Die tafel was behoorlik gedek vir die Moeder van alle stryde met die Plasies se eerstespan, O/15- en O/16- spanne wat op hul tuisveld slaggebied het.

Die Plasies se eerstespan het teen die 15-tal van die Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi te staan gekom. Die Frikkies het egter ‘n verbete aanslag geloods en Merensky moes diep grawe om die eindstryd te kon beklink.

Frikkie Meyer het binne enkele minute van die afskop af die Plasies onder druk geplaas met ‘n verdoelde drie om ‘n voortou van 0-7 te neem. Merensky het kort daarna teruggekap met twee strafskoppe om die gaping na 6-7 te vernou.

Neil van Vuuren het die eerste strafskop oorgeklits, maar moes kort daarna die veld weens ‘n heupbesering verlaat. Spanmaat Reese Coetzee het die stelskopwerk oorgeneem en het die daaropvolgende strafskop in punte omskep.

Frikkie Meyer het aangehou druk toe pas, dié keer van ‘n onverdoelde drie, om sodoende hul voortou na 12-6 te rek. Die Plasies het effens bekommerd begin lyk en hul ondersteuners langs die veld het hierdie gevoel gedeel.

Dit was uiteindelik Merensky se Nyakala Sethaba wie sierlik oorgeduik het vir sy drie wat bonop deur Coetzee verdoel was, om die Plasies met ‘n enkele punt, 13-12, die eerste keer die voorsprong in die wedstryd gegee het.

Aangevuur deur die begeesterde ondersteuners en nuutgevonde vonk wat Merensky se spel ontlont het, het Frikkie Meyer op die agtervoet geplaas. Seepgladde hanteerwerk in die doodsnikke van hierdie riller-eindstryd het vir nog ‘n drie deur Clifford Ledwaba gesorg.

Coetzee het die drie verdoel en met ‘n wentelling van 20-12 het Merensky se eerstespan dit vermag om die 2022 liga-kroon vir Afdeling-2 skole in te palm.

Die eindstryd vir die O/14-spanne was eerste op die dag se program en die Hoërskole Ben Viljoen en Ellisras het mekaar die stryd aangesê. Dit was uiteindelik Ben Viljoen se span wat die wedstryd met 13-8 gewen het om as ligakampioene gekroon te word.

Volgende was dit die beurt van Merensky se O/15-span wat teen Hoërskool Ellisras die eindstryd aangevoer het. In ‘n spanningsvolle stryd was dit JD Boshoff se skopskoen wat met vier strafskopppe geslaag het om die Plasies met ‘n eindtelling van 12-10 te laat seëvier.

In die O/16-eindstryd het die Plasies ook teen ‘n Hoërskool Ellisras-span kragte gemeet met beide spanne wat gesorg het vir aanskoulike hardlooprugby. Hoërskool Merensky het aanvanklik ‘n voorsprong geniet, maar die Rassies het egter met ‘n verbete terugvegpoging daarin geslaag om die opwindende stryd nouliks met 37-36 te wen.

Die twee top-spanne van elke afdeling oftewel ouderdomsgroep wat in die afgelope Saterdag se liga-eindstryde gespeel het, het vir die Noordvaal kwalifiserende rondtes deurgedring. Al vier Merensky se spanne gaan dus hierdie Saterdag, die 30ste Julie, in Noord-vaal uitspeelwedstryde in aksie wees.

Die O/14- en O/16-spanne gaan kragte teen die spanne van die Hoërskool Randburg meet, terwyl die O/15A- en eerstespanne teen Leeuwenhof Akademie sake gaan uitspook.

Die Noordvaal-bepalings geld vir die top skole vanuit Limpopo (Limpopo Blou Bulle), Gauteng (Blou Bulle en Goue Leeus), Mpumalanga (Pumas), Noord-Wes (Luiperds) en Oos-Gauteng (Valke) wie na die eindrondtes in hul onderskeie afdelings deur-gedring het.

>