‘n Jongman uit Tzaneen gaan binnekort sy klasmaats en die res van Tzaneen met sy siening oor die lewe (op televisie nogal) vermaak. Christo Horring is ses jaar oud en tans in Graad 1 by die Laerskool Dr Annecke op Letsitele.
Christo is die enigste kind uit Limpopo wat deur die regiseurs van die gewilde kykNET program “Kyk Wie Praat” gekies is om aan die volgende seisoen se spel deel te neem. Die speletjiesprogram is gegrond op die destydse “Small Talk” reeks wat in die vroeë 90’s oor SAUK tv-kanale uitgesaai is.
Die verfilming van die program het in Kaapstad plaasgevind wat deur Homebrew Films vir kykNET, DSTV kanaal 144, vervaardig word.
“Hy gaan deel wees van die volgende seisoen ‘Kyk wie Praat – Klas” wat aangebied word deur De Klerk Oelofse in vier episodes. Ons mag ongelukkig nie noem in watter vier episodes nie, kykers moet maar elke Woensdag om 20:00 die reeks wat op 27 Julie 2022 op kykNET afskop dop hou vir die volgende 13 weke,” het ma Danelle gesê.
Daar was meer as 800 video-inskrywings ingestuur en Christo is uit 60 kinders vir oudisies genooi.
Hy is toe uit hierdie 60 gekies vir opnames vir die program.
“Dit is vir ons ongelooflik opwindend dat Christo op televisie gaan verskyn en ons is geweldig trots op hom. Ons hoop die mense geniet die program so baie soos hy dit geniet het om deel daarvan te wees, dit was vir hom ʼn ongelooflike lekker ervaring en iets wat hy vir altyd sal onthou!”