Die halfeind- en eindstryde van die Limpopo Hoërskole Hokkie ligakampioenskap vir groter skole vir seunshokkie was op die 10de en 11de Junie by die Hoërskool Pietersburg (PHS) aangebied. Die Hoërskool Merensky se spanne het in ‘n aantal van die uitspeelwedstryde met skitter spel vorendag gekom.

Die O/14-span in die eindstryd teen een van hul gedugste teenstanders, Hoërskool Pietersburg, te staan gekom en te midde van verbete teenstand uit die Pieties se geledere nogtans daarin geslaag om hierdie aanskoulike wedstryd met 5-4 te wen om sodoende as ligawenners uit die stryd te tree.

Die O/16A-span het ook een van Hoërskool Pietersburg se spanne in die eindstryd ontmoet. Die Plasies se doelwagter, Henro Janse van Rensburg, het hardnekkkig die een aanslag na die ander afgeweer om PHS doelloos te laat. Merensky het uiteindelik met 2-0 geseëvier om as 2022 se Limpopo ligawenners gekroon te word.

Die O/16B-seuns het in die halfeindstryd teen Hoërskool Louis Trichardt met 2-4 die onderspit gedelf. In die uitspeelwedstryd om die derde en vierde plekke te bepaal, het die Plasies teen Curro Heuwelkruin uitgespeel. Die Kruinies het egter die wedstryd met 6-1 gewen wat aan hulle die derdeplek besorg het met Merensky wat die vierdeplek algeheel op die rangleer vir vanjaar beklee.

Die eerstespan het in die eindstryd teen PHS uitgespeel. Pietersburg het met ‘n genadelose aanslag die eindstryd met 0-9 gewen, met Merensky wat as die naaswenners van die liga uitgetree het.

>