Die Hoërskool Ben Vorster vier vanjaar hul 60ste bestaansjaar, en die afgelope naweek het ‘n paar oud-Vossies en van hul vriende, hierdie aangeleentheid op die setperke van die Silverlakes Buiteklub in Gauteng, in styl gevier. Bulletin het hierdie aangeleentheid bygewoon en die kans gebruik om skouers met van die land se grootste sportshelde en bekendhede te skuur.

Frik du Preez, John Smit, Victor Mattfield en Dawie Roodt (self ‘n oud-Vossie) het die Buffels se verjaarsdag saam gevier. Die Vrydagoggend vroeg was daar afgeslaan waarna die spelers in die klubhuis vir ‘n ete bymekaar gekom het. Tydens die aand se funksie het die spanne pryse ontvang vir die naaste aan die putjie en langste dryfhou asook die wenners op die dag.

Na die prysuitdeling is daar ‘n veiling gehou waartydens fondse vir die skool ingesamel is. Die res van die aand was ‘n geleentheid vir die Vossie alumni om die laaste sestig jaar se vooruitgang asook die toekoms van een van die Limpopo provinsie se voorste skole te bespreek.

Die Tzaneense gemeenskap, sakelui en ondersteuners wens Ben Vorster baie geluk met hul ses dekades mylpaal en alle voorspoed vir die volgende sestig jaar. Mag julle die stryd tot oorwinning met deernis voortsit.

>