Die Hoërskool Merensky se O/14A- en O/16B-spanne het die afgelope Saterdag die 11de Junie in afdeling 2 van Limpopo Hoërskole Rugby se halfeind- en eindrondtes by HTS Tom Naudé in Polokwane slag gebied.

Dit was veral die 15-tal van die O/16B-span wat die bo-toon gevoer het om hul teenstanders van Hoërskool Hans Strijdom te troef en die ligakampioenskap na Plasieland terug te bring. Die O/14A-span het teen ‘n gedugte span van Hoërskool Ellisras te staan gekom en het nieteenstaande vir ‘n opwindende halfeindstryd te sorg.

Die O/16B-spelers het van die meet af die pap dik aangemaak om teen rustyd ‘n voorsprong van 10-0 te geniet. In die tweede helfde het die Hansies ‘n verbete terugvegpoging geloods om hul agterstand op die telbord te laat krimp, maar dit was tevergeefs.

Die onverskrokke verdediging van die Plasies het hul teenstanders min geleentheid gebied het om werklik ‘n kleim op die eindstrydkroon af te steek. ‘n Verdoelde drie het die kroon vir Merensky gespan om uiteindelik die eindstryd met 17-14 te wen en sodoende as 2022 se O/16B ligakampioene gekroon te word.

Merensky se drieë was deur Ratiba Mohale, Snyman Smit en Danie de Bruin gedruk. Louis van Schalkwyk het met sy doelskop bygedra om die ligakampioenskap te wen.

Die O/14A-span het vir hul halfeindstryd teen die Hoërskool Ellisras te staan gekom. Die Plasies het alles in die stryd gewerp, maar ‘n sege was uiteindelik nie vir hul beskore nie met Ellisras wat met ‘n wentelling van 26-17 na die eindrondte deurgedring het.

Dit het meegebring dat Merensky in die O/14A-liga die derde plek algeheel beklee. Dié span se drieë was gedruk deur Wiehan Gerber en Jan Pretorius en deur Marco Ras verdoel. Ras het ook ‘n strafskop oorgeskop.

Die eerstespan, O/15- en O/16-spanne het reeds na die eindrondtes van Afdeling 2 van die Limpopo Blou Bulle Hoërskole liga deurgedring wat op die 23ste Julie by die Hoërskool Merensky beslis gaan word.

Al die spanne van Afdeling 2 se eindstryde gaan by Merensky gespeel word, omrede die Plasies se bogenoemde eindstrydkandidate die boonste plek in die puntestand in hul onderskeie afdelings beklee.

>