Die meisies eerste hokkiespan van die Hoërskool Merensky het die afgelope naweek met ‘n groot gejuig as die Limpopo ligawenners uit die stryd ge-tree. Dit was tydens die halfeind- en eindstryde vir groot skole wat vanaf die 10de tot die 12de Junie op die terrein van die Plasies beslis was.

In die halfeindstryd het Merensky teen die span van Elllisras te staan gekom. Die Plasies benut die tuisvoordeel om hul teenstanders met 5-0 te troef om so-doende na die eindstryd deur te dring waar hulle teen die Hoërskool Pietersburg te staan gekom het.

In hierdie twee spanne se laaste kragmeting het Merensky juis hul eindstryd-teenstanders met 2-1 geklop. Die Plasies was dus wel bewus van die feit dat die Pieties vasbeslote sou wees in die herontmoeting om die bordjies te verhang.

Beide spanne begeesterd aangevuur deur hul ondersteuners het in die eindstryd alles in die stryd gewerp om die gesogte ligakroon te beklink. Teen rustyd was daar nog geen doel deur enige van die spanne aangeteken nie wat ‘n aanduiding was hoe goed die twee spanne teen mekaar opgeweeg het.

Dit was egter in die derde kwart wat Merensky se staatmaker doelvraat, Nachandré de Lange, die bal uiteindelik verby die verdedigende stokke van die Pieties verby laat seil het om die Plasies met 1-0 te laat voorloop.

Die Plasies het hul skrale voorsprong venynig verdedig om sodoende die Pieties weereens te troef.

Hierdie keer was die oorwinning egter veel soeter gewees met Merensky wat as 2022 se eersteligakampioen uit die stryd getree het.
Die O/15A- en O/16-spanne van Merensky het in hul halfeindstryde beide teen spanne van die Hoërskool Ben Viljoen te staan gekom.

In die O/15A-halfeindrondte was dit Merensky wat met ‘n 2-1 oorwinnning na die eindstryd toe gevorder het. Die O/16-spanne se halfeindstryd was ook deur die Plasies met 1-0 gewen om hul plek vir die eindstryd te bespreek.

Die Pieties se eerstespan het dalk met hul eindstryd nederlaag teleurgestel, maar hul O/15- en O/16-spanne het die besoekers van Polokwane iets gegee om te vier deur beide eindstryde teen Merensky te wen en as ligawenners gekroon te word.

>