Die eerste en tweede rondtes van die 2022 MRF Bande-geborgde Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap het die afgelope naweek, Vrydag en Saterdag die 21ste en 22ste Mei, begin met die Kaap Overberg Tydren.

Letsitele se huidige nasionale tydrenkampioen Theuns Joubert met Schalk van Heerden as sy navigator, het met die opgegradeerde S2000 Salom Toyota Yaris, nou met turbokrag, Vrydag in die tweede sneldeel van die tydren enjinprobleme ondervind wat hulle vir die eerste rondte uitgeknikker het.

Met die meganiese knelpunte vir die tweede rondte die volgende dag uitgesorteer, het Joubert en Van Heerden behoorlik stof in hul teenstanders se oë geskop om hul klas, NRC1, sowel as die tweede rondte van die tydren algeheel te wen.

Alhoewel die tydren een naam gebruik het, was dit as twee afsonderlike rondtes aangebied. Die eerste rondte was in die omgewing van Bredasdorp beslis en die tweede rondte het die tydrenspanne in Klipdale se area gejaag.

Tzaneen se plaaslike navigator, Louise Menge, wie vir die Pretorianer, Anton Raaths, die roete aandui het vanjaar hul aanslag met ‘n nuwe tydrenmotor begin. Raaths en Menge jaag nou met die ikoniese vierwielaangedrewe Ford Escort RS Coswoth in die NRC1-afdeling.

Dié tydrenpaar se begin van die 2022 seisoen met die ‘Cossie’ het op ‘n mismoedige noot geëindig toe hulle na ‘n rolslag in die vierde sneldeel die res van die naweek se tydren as toeskouers moes aanskou het.

Met meeste van die groot kanonne uit die tydren het die baan geweg vir Benjamin Habig, seun van die veelvuldige SA tydrenkampioen Jannie Habig, met Barry White as sy roete-aanwyser om die eerste rondte in hul NRC2-klas Just Tools Volkswagen Polo te beklink. Dit was ‘n eerste nasionale wen vir die jonge Habig.

Op die Saterdag in die tweede rondte kon die spanne met ‘n vars aanslag die tydren begin. Dit was al die deelnemers wie Vrydag se rondte klaargemaak het sowel as van die spannne wat daarin kon slaag om hul motors te herstel.

Joubert en Van Heerden se dienspan het uitstekende werk verrig om die Salom Yaris reg te kry vir die tweede rondte. Die paar het nie hul werktuigkundiges teleurgestel nie en het die eerste sneldeel oor 13km die vinnnigste afgeblits om die voortou in die tydren te neem.

Joubert en van Heerden het konstant gejaag in die drie volgende trakjekte om die tweede vinnnigste tye op te stel. Hul gedugste teenstanders, Guy Botteril en Simon Vacy-Lyle in die nuwe Gazoo Racing Toyota Starlet, het egter in die vyfde sneldeel skade in die veerstelsel ondervind wat hul genoodsaak het om die nuwe tydrenmotor te onttrek wat weer die voorsprong aan Joubert en van Heerden gegee het. Die Salom Yaris was die vinnigste in die trajek.

Met die naaste teenstanders sowat 20 sekondes agter Joubert-hulle, het die Salon Yaris egter deur die oorblywende sneldele geblits om die tydren algeheel te wen.

>