Die netbalspanne van die Hoërskool Ben Vorster het Donderdag die 12de Mei gasheer gespeel vir die netbalmeisies van Stanford Lake College. Die twee skole se netbalspanne het aan die volgende ligarondte van die Mopani Streek deelgeneem. Die gashere het al hul wedstryde oortuigend gewen.

Mandi van Heerden, afrigter van Ben Vorster se eerstespan, was vol lof vir haar span se vertoning gedurende hierdie wedstryd asook vir die klinkende wen.

“Ek was veral ingenome met die spelers se intensiteit wat hul reg deur die wedstryd gehandhaaf het, hul spelpeil het geen oomblik begin uitrafel nie en het volgehoue druk regdeur die kragmeting op hul teenstanders gehou,” het sy vertel. “Dit het my veral beëindruk. Dit is egter vir my net so belangrik dat ons spelers, al het die spanne oortuigend gewen, om nogsteeds nederig te bly en respek teenoor hul teenstanders te betoon,”

Die Vossies se netbalspanne het op die daaropvolgende dag, Vrydag die 13de Mei, na die Hoërskool Rustenburg gereis vir vriendskaplike wedstryde en hier teen aansienlike groter teenstand gespeel.

“As ek terugkyk na ons verrigting sovêr vanjaar, nie net van ons eerstespan nie, maar van al ons spanne en veral die talentvolle junior spelers wat deur die range kom, is dit verblydend om te sien Ben Vorster se netbal is goed op dreef. En dit is ‘n goeie teken vir die toekoms van ons netbal.”

Ben Vorster het, nieteenstaande die feit dat hul vir twee agtereenvolgende dae in wedstryde gespeel het, hul steeds uitstekend van hul taak gekwyt.

In die wedstryd teen Stanford Lake College wie se spelers erkenning verdien vir die moedigheid wat hul getoon het teen ‘n veel sterker span, het die eerstespan ‘n weghol oorwinnning van 43-9 verseker.

In die tweedespanne se stryd het Ben Vorster met 30-1 geseëvier. Die O/15A-span wen hul wedstryd met 34-8 en die O/15B-span kraai koning met ‘n sege van 28-4.

Die junior spelers van die O/14A- en O/14B-spanne het gewys dat die netbaltoekoms van die skool baie goed lyk, soos beaam deur die Vossies se eerstespan breier. Die O/14A-span klop die besoekers met 26-5 en die O/14B-meisies het ‘n wen van 24-7 behaal.

Op die daarvolgende dag teen Rustenburg het Ben Vorster se eerstespan die aftog met 18-32 geblaas. Vir afgrigter van Heerden is dit geen rede om die koppe te laat sak nie, maar eerder foute wat hul maak uit te stryk vir die wedstryde wat voorlê.

Die O/16A- en O/15A-spanne het tien teen een met baie breë glimlagte teruggekeer Tzaneen toe. Dit na beide hierdie spanne hul kragmetings gewen het. Die O/15A-span het die Rustenburgers met 26-22 geklop en die O/16A-spelers het nouliks met ‘n 18-16 sege hul wedstryd verseker.

Slegs die twee voorste netbalspanne van elke streek in Limpopo kwalifiseer om na die Limpopo kampioenkap deur te dring. Hierdie kampioenskap sal op die 11de Junie in Polokwane by die Hoërskool Pietersburg beslis word.

Volgens afrigter van Heerden gaan die eerstespan wéér op die 26ste Mei in Pretoria by Jenny van Dyk, die hoof van Tuks se netbal- en een van Suid-Afrika se beste gerekende afrigters, kers opsteek om nog ‘n paar fynere kunsies aan te kweek.

Hier gaan die span ook geleentheid gebied word om teen Tuks se O/19-span in ‘n vriendskaplike wedstryd te speel wat vir hul waardevolle ervaring gaan meebring.

>