Die rugbyspanne van Hoërskool Frikkie Meyer vanuit Thabazimbi het op die 7de Mei na die Hoërskool Merensky vir hul rondte ligawedstryde gereis.

In die die hoofwedstryd van die dag het albei spanne vir opwinding soos min gesorg wat hul ondersteuners op die punte van hul stoele gedryf het. Na ‘n strafskop het die besoekers aanvangklik met 3-0 voorgeloop.

Die Plasies se losskakel, Philip Ludick, het sy span se drieërekening oopgemaak en was deur die binnesenter, Neil van Vuuren, verdoel om die Plasies ‘n voorsprong van 7-3 te gee.

Die vreugde was egter van korte duur vir die tuisspan se ondersteuners met Frikkie Meyer wat ‘n verdoelde drie en ‘n strafskop deur die pale gestuur om die rustydtelling na 13-10 in hul guns te swaai. Dit was veral die losvoorspelers van die besoekers en hul kragtige skrums wat die Bloues hoofberekeninge besorg het.

Na halftyd het Frikkie Meyer nog ‘n strafskop by hul telling gevoeg om hul voorsprong na 16-10 te rek. Ludick was Saterdag die spreekwoordelike doring in die besoekers se vlees met sy glibberige lopies doellyn toe wat dan ook vir sy tweede drie van die wedstryd gesorg het.

Van Vuuren het die bal deur die mikke geskop om Ludick se drie te verdoel en sy span die voortou met ‘n enkele punt (17-16) te gee.

Die Bloues se regtervleuel, Letlotlo Mohlala, het kort daarna ‘n steekskoppie skelmpies verby hul teenstanders geskop wat hul heel onthuts gevang het.

Met die bal al rollend oppad doellyn toe kon Frikkie Meyer nie die bal onder beheer kry nie en dit het Mahlatse Semosa op linkervleuel wie die bal opgeraap het ‘n guldige weg na die doellyn vir sy drie gebied.

Die doelskop was onsuksesvol en met die telling binne trefafstand op 22-16 kon Merensky nie juis bekostig om te houtgerus te raak nie.

Merensky se binnesenter, Neil van Vuuren, het ook ‘n uitstekende wedstryd beleef en hy het vir ‘n onderskepdrie onder die pale gesorg wat hy dan ook self verdoel het. Hierdie laaste suksesvolle aanval van die tuisspan het die besoekers se knieë lam gelaat.

Met ‘n voorsprong van 29-16 vir die tuisspan wat uiteindelik ook die wentelling was, het Frikkie Meyer net nie meer genoeg petrol in die tenk oorgehad in die laaste paar minute van die spel om die agterstand te laat krimp nie. En dit was veral duidelik in die skrums waar Merensky se voorspelers hulle op die uiteinde heeltemal uitmekaar geskrum het.

Die eerstespan van die Hoërskool Merensky is sovêr vir hierdie seisoen nog onoorwonne in al hul ligawedstryde waarin hulle gespeel het wat hul seersekerlik een van die gunstelinge vir vanjaar se ligakroon maak.

Die O/14-spanne het soos gebruiklik die dou van die veld af gespeel. Die twee skole se O/14A-spanne eindig gelykop met ‘n 10-10 telling, terwyl die Plasies se O/14B-span vir die eerste oorwinning van die dag sorg met ‘n telling van 12-10.

Daarna was dit tyd vir die O/15-span waar die Plasies koning kraai met 18-5. Ongelukkig moes die tweedespan bes gee met ‘n eindtelling van 0-15. Die derdespan het naelskraap met 19-20 verloor. Die kookwater O/16-span het Frikkie Meyer met ‘n pragtige telling van 38-7 getroef.

>