Die Hoërskool Merensky se meisieshokkiespanne het op Saterdag die 23ste April behoorlik die doele tydens die ligawedstryde teen die spanne van Hoërskool Hans Strijdom ingeryg.

Dit was veral die Plasies se eerste meisiesspan wat ‘n soete oorwinning van 8-0 behaal het. Dit na hulle reeds halftyd met 3-0 voorgeloop het.

Lané Kasselman en Chantell Meyer het albei vier doele aangeteken, insluitend die twee uitsonderlike “penalty flicks” in die eerste kwart en derde kwart van die wedstryd.

Vir die leke, ‘n “penalty flick” is waar die bal wel in die doelhok beland, maar ‘n verdediger se lyf was in die pad.

Sodoende kry die speler ‘n tweede kans om die doel aan te teken en slegs die doelwagter moet dan verdedig.

Amerie Kotze op die middelskakelposisie het ook ‘n uitmuntende wedstryd beleef om die besoekers deurentyd met haar venynige spel onder druk te plaas.

Die O/14-span het in ‘n opwindende wedstryd gelykop met twee doele elk geëindig. Die O/15-span het met ‘n oorwinning van 2-0 van die astro gestap.

Die O/16-spelers het selfs beter gevaar om met 3-0 te wen. Die tweede-span het egter vasgeval teen die besoekers van Mookgopong en verloor 0-3.

>