Die skyfskietskuts van die Hoërskool Ben Vorster het op Saterdag die 9de April weereens hul slag op die skietbaan gewys tydens die skool se Buffelkompetisie waar hulle ‘n aantal puik kolskote geskiet het om met medaljes en sertifikate beloon te word.

In die o/21-ouderdomsgroep het Tiard Thompson altesaam vyf tweede plekke in die lê-, staan- en knielposisie behaal en drie silwermedaljes vir die 3P- en 10m- afdelings sowel as vir die algehele uitslag behaal. Spanmaat Adriaan Coetzee het die derde plek ingeneem.

Thompson berei tans voor vir die Suid-Afrikaanse proewe in Bloemfontein vanaf die 21ste tot die 23ste April. Hy gaan hier alles in die stryd werp om die span te haal wat na Engeland in Augustus toer.

Schalk van Niekerk het in al sy afdelings, naamlik lê-, staan- en knielposisie, derde plekke behaal asook drie bronsmedaljes in die o/16-ouderdomsgroep losgeskiet. Joshua Smith het vierde plekke in die afdelings en ouderdomsgroep behaal.

Marnu Duvenhage, Louisa de Beer en Rikus de Kock het uitstekend gevaar in die o/14-ouderdomsgroep. Duvenhage was tweede in die 3P-staanposisie, derde in die 10m-staanposisie asook in die 10m-kompetisie.

De Beer het ook ‘n tweede- en derde plek behaal in die 3P-afdeling en ‘n silwermedalje in die 3P algehele afdeling verwerf. De Kock het ‘n silwermedalje in die 10m-staan afdeling ontvang vir sy aanslag.

>