Die Hoërskool Merensky het Vrydag die 8ste April ‘n gholfdag op Tzaneen Buiteklub se setperke aangebied. Die span van Neville en Ruan Huyseman het kragte met André Liversage Senior en Junior saamgesnoer, en was as die uiteindelike wenners van Merensky Rugby se eerste gholfdag aangewys.

Die vierbalspan van BB Ford Tzaneen bestaande uit Patrick Cahill, Cornel Jacobs, Dawie Botes en Evert Bekker het die tweede plek pryse ontvang terwyl die span van Soutpansberg Meat Boys (SMB) met André Coetzee, Dewald van der Walt, Cor van Heyningen en Gert van Zyl die derde plek ingeneem het.

‘n Veld van sowat 72 spelers het aan hierdie gholfdag deelgeneem wat gehou was om grotendeels die vervoerkostes van die Plasies se rugbyspanne te dek. Volgens Louis du Preez, bemarkingsbestuurder van Merensky, het die huurkostes van busse baie duur geword, veral in die lig van die afgelope hoër heffings in brandstofpryse.

Hy sê dis waarom die skool allerlei geleenthede soos hierdie gholfdag aanbied om hierdie duur kostes die hoof te bied en dat die skool nie van die ouers kan verwag om dit te betaal nie, sommige ouers kan eenvoudig nie sulke kostes bekostig nie.

Danksy die instelling van geleenthede soos hierdie, en met die opehartige ondersteuning van Tzaneen-omgewing se gemeenskap en ondernemings, kan hierdie spanne en hul afrigters nou met geruste harte na opkomende toere kyk met die doel om daaraan deelteneem.

>