Laerskool Dr Annecke se graad 7 leerders het onlangs ‘n veldskool-toer bygewoon waar hulle baie geleer en hope pret en plesier beleef het.
Op die 14de Maart het altesaam sestig graad sewes en drie personeellede van dié skool na die Schoemansdal Omgewingsopvoedingsentrum vertrek, vir hulle jaarlikse tradisionele veldskool wat tot die 17de Maart geduur het.
Carel Kilian, die kampfasiliteerder, het die groep leerders en personeel verwelkom. Hy het vanaf hul aankoms tot die dag met hul vertrek terug, seker gemaak dat die besoekers nie een oomblik van stilsit nie beleef nie.
Die leerlinge het aan verskeie aktiwiteite deelgeneem. Daar was ondermeer vier verskillende hindernisbane, ‘n muurklim-sessie en ‘n “foefie slide”. Die leerders het ook met vlotte die naby geleë rivier aangedurf, ‘n bosroete gestap, geleer hoe om lantern bekruip te doen wat vir groot pret gesorg het, waterspeletjies en nog vele meer.
Die personeel van Dr Annecke het hul dalk uitgespreek vir Kilian wie ‘n fantastiese gasheer was en dit beslis ‘n onvergeetlike ervaring vir die leerders gemaak het. Wat besonders en hoogtepunt was van hierdie jaar se veldskool was veral die omstandighede. Die leerlinge en selfs die personeel het weer soos kinders in die reën en modder gespeel.
Na byna twee jaar se Covid-reëls, waar kinders genoodsaak was om sosiale afstande te handhaaf, was dit regtig wonderlik hoe hierdie leerlinge uiteindelik as spanne saamgewerk en mekaar begin vertrou en ondersteun het.
Dat die leerders baie van die bos geleer het is gewis. Hier het hul geleer om hul vrese in die oë te staar en het baie van hulself ontdek. Dr Annecke se 2022 veldskoolgroep het die heerlike kos wat vir hul opgedis was ook hoog aangeskryf.