Die derde rondte van die Toshiba Beker, Limpopo se amateur gholfkampioenskap, het die afgelope naweek, Saterdag en Sondag die 26ste en 27ste Feruarie, plaasgevind met die Tzaneen Ope Toernooi wat op die uitdagende baan van Tzaneen Buiteklub beslis is.

Vanjaar se Tzaneen-rondte het, soos in 2020, weer ‘n plaaslike wenner opgelewer. Luan Steenkamp het in die eindrondte op die tweede dag met drie ander spelers sake uitgespook om die wenner te bepaal.

“Hierdie jaar het ek besonders goed gespeel. Die wen wat ek in 2020 behaal het, was natuurlik baie lekker en ‘n groot voorreg om dit te kon vermag. Maar vanjaar se wen was ‘n behoorlike een.”

In die eerste ronde Saterdag het teenkamp ‘n totaal van 68 houe aangeteken om op ‘n telling van -4 vir die dag te eindig. Hy het sy aanslag die volgende dag vir die tweede en laaste rondte voortgesit. Hier het die Tzaneense speler ‘n aantal van 69 houe aangeteken met ‘n telling van -3.

Dit het vir hom ‘n syfer van -7 onder baansyfer gegee en ‘n allemintige oorwinnning van nege houe teenoor sy naaste teenstander. Steenkamp was tydens die twee dae se spel deur sy pa, Leon, gerugsteun wie as Steenkamp se baljoggie opgetree het.

“My Pa hou my verseker kalm en geduldig tydens ernstige rondtes soos hierdie, en dit is vir ons albei bitter lekker om só tyd saam te spandeer.”

Die tweedeplek met ‘n telling van +2 was deur Louis Erasmus, ook van Tzaneen Buiteklub, beklee. Dit nadat die ander drie voorste spelers van die eerste rondte wie saam met Steenkamp sake uitgespook het vir die wen, deur die uitdagende baan en volgehoue druk uitgeknikker is.

Jannie Bronkhorst, Shaun Mouton en Morné Myburgh, almal van Polokwane Gholfklub, kon egter nie by Steenkamp kers vashou nie. Dit het aan Erasmus die tweedeplek besorg. Steenkamp het reeds bevestig dat hy nie aan die volgende rondte van die Toshiba Beker, die Musina Ope Toernooi, gaan deelneem nie.

Hierdie toernooi gaan op die 12de en 13de Maart deur Messina Gholfklub aangebied word. Hy is egter hoopvol om gou weer aan ‘n toernooi deel te neem. “Ek is onseker wanneer ek my volgende ope-toernooi gaan speel, maar ek hoop dit is binnekort.”

Daar was ook ‘n kompetisie vir junior spelers. PJ van der Berg, ook van Tzaneen, was as die Junior Nett Kampioen gekroon. Limpopo Gholf Unie het die jong speler geloof vir sy spel en genoem dat hy reeds baie goeie vermoë toon vir ‘n opkomende speler.

Algehele uitslag na 36 gatjies:
1 – Luan Steenkamp -7
2 – Louis Erasmus +2
T3 – Shaun Mouton +6
T3 – Johan Geldenhuys +6
5 – Cor van Heyningen +7
6 – Neil Rathman +8
T7 – Morné Myburgh +10
T7 – Vincent Olley +10
9 – Christo Stears +11
10 – Jannie Bronkhorst +12.

>