Die atlete van die Hoërskool Merensky het Dinsdag die 18de Januarie sy jaarlikse interhuis atletiek geleentheid gehou. Die warm bedompige weer het geensins die atlete laat terugdeins nie en het vir skitter-atletiek gesorg.

Vanjaar se deelnemende atlete het gewys hulle is gewis uitgehonger vir sportdeelnames na Covid-19 skolesport die afgelope twee jaar erg gekniehalter het.

‘n Hoeveelheid van 21 rekords het in die slag gebly. Die span van Huis Ventus het die Interhuis gewen met ‘n puntestand van 1003.5 punte.

Die span van Huis Aqua het die tweedeplek met 1001.5 punte ingeneem met die span van Huis Ignus in die derdeplek met 952.5 punte. Huis Terra het in die vierdeplek geëindig met 847.5 punte.

Die wenspan, Ventus, se atlete het vir ‘n totaal van 106 medaljes gesorg. Die Ignus-span het 94 medaljes huistoe gevat. Die span van Aqua het 91 medaljes ingepalm en Terra se span het altesaam 89 medaljes verower.

Soos die tradisie betaam, veral by sportsoorte soos atletiek en swem, word daar Victor and Victrix Lodorum-toekennings vir die mees uitstaande junior en senior atlete oorhandig.

Die Junior Victrix Lodorum was aan Sophia van Wyk toegeken met Leon de Lange wat die Junior Victor Lodorum ingepalm het. Klara Pretorius was met die Senior Victrix Lodorum beloon en vanjaar se Senior Victor Lodorum wenner was Reese Coetzee.

>