Cor van Heiningen in die fietswedren gedeelte van die Ironman.

Tzaneen se eie ysterman, Cor van Heyningen, het die afgelope naweek in Port-Elizabeth (nou daai snaakse naam wat mense sukkel om uit te spreek) korte mette van die uitmergelende Ironman African Champs byeenkoms gemaak.

Van Heyningen het in die afdeling vir mans tussen 45 en 49 jaar oud deelgeneem en het die gewilde Ironman in ‘n tyd van 12 ure, 6 minute en 30 sekondes voltooi. Die Ironman word beslis uit swem, fietsry en ‘n padwedloop.

“Dit was sekerlik die ‘toughest’ Ironman byeenkoms nog waaraan ek al deelgeneem het. Wat die byeenkoms so uitdagend gemaak het was die feit dat die wind ongelooflik sterk gewaai het,” het van Heiningen vertel.

“As gevolg daarvan was die organiseerders genoodsaak om die swem-item, wat in die see beslis was, effens te verkort juis oor die winderige toestande wat die water baie ontstuimig gemaak het. Dit kan natuurlik ‘n moontlike gevaar vir die deelnemers inhou.”

Van Heiningen het die verkorte swem-item in ‘n tyd van 13 minute en 29 sekondes voltooi. Die fietswedren was oor ‘n afstand van 180,2km gehou, met Tzaneen se ysterman wat dit in 6 ure, 25 minute en 14 sekondes klaargemaak het.

Die padwedloop het oor ‘n afstand van 42,2km gestrek. Van Heiningen se tyd vir die half-marathon was 5 ure, 13 minute en 35 sekondes.

Aanhou en vasbyt kom in hoofletters voor in Cor van Heyningen se woordeskat.

“Ek het my eerste Ironman kompetisie in 2007 aangepak en die daaropvolgende jaar het ek weer gaan deelneem. Maar hierdie jaar se Ironman was ‘n taai kalant. Tussen my eerste twee Ysterman kompetisies en die afgelope naweek se byeenkoms, het ek tientalle half marathons, Comrades Ultra Marathon padwedlope, en ook die Cape Epic bergfietswedren aangepak.”

Ten spyte dat vanjaar se Comrades Ultra Marathon wééreens as gevolg van die Covid-19 pandemie afgelas moes word en virtueel gehou was, het dit nie van Heyningen van stryk gebring nie en het hy op sy eie agterplaas die virtuele weergawe van dié padwedloop kaf gedraf.

Hy het in 2019 ook suksesvol die eerste virtuele weergawe van die Comrades Ultra voltooi. Wie weet wat die kristalbal vir die kanniedood sportman inhou, maar dat hy sy liggaam tot die uiterste gaan beproef in die volgende avontuur is gewis.

>