Juan Meintjies. Foto's: Sheila’s Africa

Die swemmers van Shamu Swimming (SS) en Tzaneen Amateur Swemklub (TASK) het op Saterdag die 6de November in Polokwane aan die ‘Ouderdomsgroep 5’ swemgala deelgeneem.

Hierdie twee klubs se swemmers het tientalle mededingers behoorlik op hul neuse laat kyk. Dit was veral Shamu Swimming (SS) se Jason Loucao wat in die afdeling vir seuns o/15 geskitter het. Hy het altesaam vyf eerste plekke ingepalm.

Jason Loucao.

Sy goue medaljes het hy in die 200m individuele wisselslag (IW), 100m borsslag, 200m borsslag, 50m rugslag en in die 100m rugslag items behaal.

Larike Joubert van TASK het in die ouderdomsgroep vir meisies o/15 geswem waar sy met vier eerste plekke gespog het. Sy het ook ‘n tweede plek agter haar naam geskryf. Joubert se eerste plekke het sy in die 50m vryslag, 50m borsslag, 100m borsslag en in die 200m borsslag verower. Haar tweede plek het sy in die 100m vryslag behaal.

Die rugslag-swemmer Ronan Theron van TASK het ook sy stem dik gemaak in die ouderdomsgroep vir seuns o/16 en ouer deur met oorwinnings in die 50m vlinderslag, 50m rugslag en 100m rugslag te spog. Theron was tweede in die 50m vryslag en het derde in die 100m vryslag geëindig.

Elne Haynes.

Shamu se Elné Haynes wie in die ouderdomsgroep vir meisies o/14 geswem het, was in haar element en het eerste plekke in die 50m vryslag, 50m vlinderslag, 100m vlinderslag en in die 100m rugslag items verower. In die 100m vryslag item het sy die tweede plek ingeneem.

Nog ‘n Shamu swimmer, Joszua Joubert, het in die ouderdomsgroep vir seuns o/15 deelgeneem. Hy was die voorste swemmer in die 200m rugslag item en het verder uitstekend gevaar deur ‘n aantal tweede plekke op te raap, naamlik in die 50m vryslag, 100m vryslag, 100m borsslag en in die 100m rugslag items.

Juan Meintjes, die opkomende vlinderslag-swemmer van TASK wie ook in die ouderdomsgroep vir seuns o/15 geswem het, het in die 50m vryslag en in die 50m vlinderslag seges behaal. Hy was verder tweede in die 50m rugslag item. In die 100m vryslag en 200m Individuele Wisselslag items het Meintjies twee derde plekke agter sy naam gevoeg.

Donia Smit van Shamu het in die ouderdomsgroep vir meisies o/16 en ouer in twee items die kroon gespan. Sy was eerste in die 100m vlinderslag en 200m borsslag. Sy het hierdie prestasies met ‘n tweede plek in die 200m rugslag en met ‘n derde plek in die 100m borsslag items opgevolg.

Onder die junior deelnemers het dié dorp se swemmers ook nie op hul laat wag nie en het met tientalle top uitslae teruggekeer.

Wessel Joubert van Shamu het veral die kollig gesteel in die ouderdomsgroep vir seuns o/12 waar hy ‘n in rits items sy mededingers die weg gewys het. Joubert was eerste in die 50m vryslag, 50m vlinderslag, 100m
rugslag en in die 50m rugslag items. Hy het ‘n derde plek in die 100m vlinderslag item by sy lys van prestasies gevoeg.

Liné Brits van TASK het ook nie op haar laat wag nie waar sy in die ouderdomsgroep vir meisies o/12 deelgeneem het. Brits het die eindpunt eerste in die 50m vlinderslag, 100m rugslag en in die 100m vryslag items bereik en in die 200m Individuele Wisselslag moes sy met die derde plek tevrede wees.

Mari Bruwer van Shamu het drie oorwinnings en twee tweede plekke behaal waar sy in die ouderdomsgroep vir meisies o/10 en jonger geswem het. Sy het in die 50m vryslag, 50m vlinderslag en in die 100m vryslag die botoon gevoer. In die 50m borsslag en 100m borsslag items het sy in beide tweede geëindig.

Ella Janse van Rensburg, ook ‘n kranige swemmer van Shamu, het in die afdeling vir meisies o/11 in die 50m vryslag, 100m rugslag en in die 50m rugslag bobaas gekraai. Sy het die prestasies met ‘n tweede plek in die 50m borsslag en ‘n derde plek in die 100m vryslag items opgevolg.

Shamu se Josh Kruisis, seuns o/10 en jonger, en sy mede-swemmer by dié klub, Dario Wasley, seuns o/12, het ook beide uitstekende resultate behaal. Kruisis het in die 50m vryslag, 100m borsslag en in die 50m borsslag items koning gekraai en was tweede in die 100m vryslag item. Wasley se eerste plekke het hy in die 100m borsslag, 200m borsslag en in die 50m borsslag items vermag. Hy was verder derde in die 50m vlinderslag item.

>