Renzo du Plessis in aksie vir die junior Haaie in hul wedstryd teen die Westelike Provinsie. Foto's: Verskaf

Die Cell C Sharks se o/20-rugbyspan het Vrydag die 8ste Oktober die span van die Noord-Wes Luiperds met 29-16 in Durban geklop. Sodoende het die junior Haaie daarin geslaag om na die halfeindstryd van SA Rugby se o/20 kampioenskap deur te dring.

Mense sal natuurlik wonder wat op dees aarde hierdie twee spanne se uitslag met hierdie omgewing te make het, Limpopo is dan immers grotendeels Blou Bul kontrei.

Wel, altesaam drie voormalige skoliere en eerste rugbyspanspelers van die Hoërskool Ben Vorster het in dié wedstryd teen mekaar gespeel.

Renzo du Plessis, 2020 hoofseun van die Vossies en kaptein van die Buffels se eerstespan, het hom
vroeër vanjaar by die Cell C Sharks aangesluit terwyl sy alma maters, Marvelous Mashimbye en Matome Molebogeng, vir die Luiperds slag bied.

Bulletin het met du Plessis gesels in hul voorbereiding vir hul halfeindstryd teen die span van die Gauteng Leeus wat hierdie Saterdag in Johannesburg beslis gaan word.

“Ons het geweet vir die kwarteindstryd teen die Luiperds dat ons hierdie wedstryd moet wen, andersins was ons uit die kompetisie vir hierdie jaar,” het hy verduidelik.

“Dit was egter baie aangenaam om weer my ou skoolmaats in ‘n rugwedstryd te kon ontmoet. Terwyl daar ‘n besering op die veld was, het ek na Molebogeng en Mashimbye geloop om hulle te groet. Al speel ons teen mekaar, het ons steeds ‘n ongelooflike verbintenis met die feit dat ons drie se rugbyloopbane by Ben Vorster begin het.”

Die feit dat die junior Haaie nou moet uitspeel teen die Leeus se o/20-span wie tans die voorste plek op die punteleer bekleë, skrik du Plessis en sy Sharks-spanmaats nie af nie.

“Ons is reg om die Leeus op hul tuisveld aan te vat hierdie naweek. Soos ons afrigters en bestuur sê, ons gaan hierdie halfeindstryd op ‘n skoon bladsy begin. Dit wat gebeur het in die afgelope wedstryde, is iets van die verlede. Daar is ‘n ongelooflike gees onder die spanlede en sy bestuur, ons sien met opgewondenheid na hierdie kragmeting.”

Renzo du Plessis is besig om sy vernuf by die Cell C Sharks op te skerp.

Hy studeer tans vir sy B.Com graad in Besigheidsbestuur, en sê hy geniet dit baie in Durban.

“Ek het gedink na skool sal dit maklik wees om studiewerk en rugby saam te kan handhaaf. Dit was egter nie so maklik soos wat ek gereken het nie. Ek het egter gou aangeleer hoe om my tyd tussen die twee aktiwiteite te bestuur.”

Du Plessis wie in die agsteman posisie uitgedraf vir die Haaie-span se kwarteindstryd teen die Luiperds, vertel dat die beperkte getalle toeskouers wat nou weer in stadiums toegelaat word, verseker ‘n welkome gesig is.

Die junior Haaie het nie hul ondersteuners teleurgestel nie en het twee drieë teenoor die een van die Luiperds gedruk in hul segetog. Die jong man van Tzaneen is ook baie optimisties oor sy rugbytoekoms by die Haaie. Die feit dat sommige van die Currie Beker-spelers moontlik opgeroep kan word vir die Verenigde Rugby Kampioenskap in Europa en later in Suid-Afrika, kan ‘n moontlikheid bied vir die junior Haaispelers soos du Plessis om in aanmerking vir die Currie Beker-span te kom.

“Die Cell C Sharks Unie het my hierdie geleentheid gebied wat ek ten volle wil benut. Daarom sal ek getrou aan hulle wees vir die voorsienbare toekoms. Dit is werklik ‘n eer om deel van hierdie profesionele groep te wees”.

>