Zander Engelbrecht het sy plek in die SA skolespan bespreek wat in 2022 in die VK gaan skiet. Foto's: Roelof de Jonge

Zander Engelbrecht was een van ‘n aantal luggeweerskuts van die Hoërskool Ben Vorster wie die Limpopo-span by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Johannesburg verteenwoordig het. Hy het in die o/21-afdeling deelgeneem.

Engelbrecht wie sedert Graad 8 begin deelneem het aan die sport, is vanjaar in Graad 12. Afgesien van die toekennings wat hy by hierdie nasionale kampioenskap verwerf het, was Engelbrecht een van vyf skuts in die Limpopo-span wie Suid-Afrikaanse Nasionale Skoleskuttersunie (SANSSU) Kleuretoekennings verwerf het.

Dié skyfskietskut het met ‘n gemiddeld van 90% gekwalifiseer vir sy SA-kleure. Hy is egter die enigste skut vanuit Tzaneen se omgewing wie nasionale kleure ontvang het.

Zander Engelbrecht van die Hoërskool Ben Vorster spog met sy SA kleure vir luggeweerskiet.

“Dit is nie die eerstekeer wat ek vir Limpopo deelgeneem het nie, maar dit is wel die eerste keer dat ek vir die Suid-Afrikaanse span gekeur is. Die mededingendheid van hierdie kampioenskap het my senuwees bietjie geknaag. Met die ondersteuning van ons mentor en afrigter hier by Ben Vorster, Anél Griesel, en
van die res van die Limpopo-span agter my, kon ek my droom bewaarheid. Maar dit het beslis hardewerk geneem om hierdie prestasie te behaal.”

Dit gaan egter ‘n wyle neem voor hierdie internasionale kampioenskap plaasvind. Volgens Griesel is hierdie kampioenskap geoogmerk om eers in Julie of Augustus 2022 by Bisley in die Verenigde Koninkryk plaas te vind. Dit gee Engelbrecht en sy Limpopo-spanmaats meer as genoeg tyd om vir die groot geleentheid voor te berei.

Tydens die prysuitdelingsgeleentheid na afloop van die SA kampioenskap waar die Limpopo-span tientalle toekennings verwerf het, het Griesel ook erkenning van die nasionale beheerliggaam ontvang. Dit was oorhandig weens haar betrokkenheid as beampte by die nasionale kampioenskap vir die afgelope vyf jaar.

Die skuts van die Hoërskool Ben Vorster wie saam Engelbrecht die Limpopo-span verteenwoordig het, was Tiard Thompson, Mianel du Plooy, Dreyer van Heerden en Hanru Marais. Limpopo Luggeweerskiet
se unie bestaan uit vyf skole naamlik die Hoërskole Piet Potgieter, Ben Vorster, Louis Trichard, Pietersburg en NEOS Koedoeskop.

>