Daar was behoorlik gegons in plaaslike rugbykringe oor wie as die nuwe rugbyhoof by die Hoërskool Ben Vorster aangestel sou word. Die kandidaat vir hierdie pos was verlede week ekslusief aan Bulletin, tydens ‘n vergardering bekend gemaak.

Die nuus oor die huidige direkteur van rugby en voormalige hoofafrigter vir die Eerstespan, Peter Schutte se uittrede uit die Buffelkraal hierdie maand, het baie onnodige onsekerheid in die gemeenskap gelaat rondom die toekoms van Vossie -rugby, wat die afgelope vier jaar twee Virsekerbeker -trofeë en talle ander eerbewyse gelewer het.

Dit is om hierdie rede datDie Hoërskool Ben Vorster vandeesweek die aanstelling van die nasionaal- en internasionaal bekende afrigter, Reinhard Gerber, aangekondig het.  Hy sal einde November amptelik as die nuwe Rugbydirekteur by die Rooi Leër aansluit.

Gerber het op Krugersdorp grootgeword en by die hoogs gerespekteerde Hoërskool  Monument skoolgegaan. Hy het die Witbulle in 76 wedstryde verteenwoordig en het ook provinsiale spanne verteenwoordig op skoolvlak vir die Leeus O/17, Leeus Craven Week en Leeus O/19.

Na skool het Gerber sy tande deurmiddel van ‘n junior Natal rugbyunie kontrak vir ‘n jaar in Kwazulu-Natal gaan slyp en is later goedgekeur by die Universiteit van Johannesburg, waar hy ‘n sertifikaat in Sportadministrasie voltooi, en die Universiteit verteenwoordig het in hulle O/21A en Eerste-spanne tot in 2004.

“Vir meer as 20 jaar is my doel om verhoudings op te bou en om effektiewe spanne te lei. As ‘n rugbyspeler op ‘n professionele vlak, en as direkteur, afrigter en onderwyser, het ek in verskillende internasionale omgewings saam met uiteenlopende groepe mense van alle ouderdomme en agtergronde gewerk,” skryf Gerber in sy CV.

Die res van sy kwalifikasies spreek boekdele en sluit in posisies soos Hoofrugbyafrigter by Studentenstadt Rugby, in München vanaf Junie 2021-hede (seisoenaal), Sportdirekteur by Hoërskool Glenwood in Durban vir vier jaar vanaf 2017 tot 2021 en Hoof van Rugby en Sport Administrateur, by die Hoërskool Stirling in Oos -Londen.

In die week wat kom sal Bulletin ‘n eksklusiewe onderhoud met Gerber voer. Hou gerus ons Facebook-blad asook Die Hoërskool Ben Vorster se blad dop vir die nuutste verwikkelinge rondom die aankoms van Mnr Gerber, en sy toekomsplanne vir Vossie-rugby.

>