Die destydse Sasol Tydren in Nelspruit, Sabie se omgewing was een van Eddie Simpson se gewildste tydrenne om aan deel te neem.

Soos die gesegde lui, as die gogga van belangstelling mens eers gebyt het, is daar nie terugkeer nie. Eddie Simpson, bekende sakeman en inwoner van Tzaneen, sal kan getuig hiervan.

Toe die tydrengogga hom eers gebyt het, was daar geen terugkeer nie. Simpson gaan eersdaags saam met die plaaslike navigator, Louis Menge, aan die opkomende NTT Motor Group Tzaneen Tydren vanaf die 20ste en 21ste Agustus met sy Opel Corsa tydrenmotor deelneem.

Die bekende sakeman en inwoner asook tydrenjaer van Tzaneen, Eddie Simpson met tientalle toekennings vir deelname aan die sport, gaan eersdaags aan die tydren in dié dorp se omgewing jaag.

Hy het wel die afgelope twee jaar min aan tydrenne deelgeneem omrede hy ‘n stryd teen kanker gevoer het. Hy moes ondermeer tientalle chemo-behandelings ondergaan, en menige kankerleier sal getuig dat dit ‘n baie uitmergelende affêre is.

Simpson het na sy chemo-behandelings uiteindelik die oorhand oor die gevreesde siekte gekry, soveel so dat hy verlede jaar November vir die Dullstroom streekstydren vir die eerste keer weer agter die stuur van sy tydrenmotor geskuif het.

Eddie Simpson het aan tientalle nasionale maar meestal aan streekstydrenne deelgeneem. Hy gaan weer agter die tydrenstuur inskuif vir die opkomende tydren op Tzaneen.

“Ek sien baie uit om aan die NTT Motor Group Tzaneen Tydren deel te neem. Ek was ook self by die beplanning van die roetes oftewel sneldele betrokke, so hier en daar het ek ‘n idee wat om te verwag. Louis Menge, ‘n gesoute navigator van Tzaneen, het ingewillig om vir my die roete aan te dui.”

Simpson wie vir etlike jare op die dorp ‘n motorhandelaarskap en vulstasie op die dorp bedryf het, alhoewel net die vulstasie vandag nog in bedryf is, is van nature ‘n motorgeesdriftige soos min en as ‘n lid van die klassiekemotorklub op
die dorp, Yester Car Club, spog hy selfs met ‘n versameling van gewilde klassieke motors.

Hy vertel hoe hy jaarliks die rondte van die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap wat hier
op Tzaneen beslis was, gevolg en die skouspel beleef het. Dit was tydens een van hierdie tydrenrondtes op Tzaneen in die laat 1990’s dat Simpson se aangetroude seun, Marko Lottering, hom in kennis gestel het van een van die deelnemers wie sy tydrenmotor as te koop adverteer.

“Marko het my toe oortuig om die Corsa Lite tydrenmotor te koop, en die res was geskiedenis. Dit was as te ware my eerste tydrenmotor waarmee ek vir etlike jare mee gejaag het”, het Simpson vertel.

Die kenmerklike geel Corsa van Simpson was onder plaaslike motorgeesdriftiges ‘n bekende gesig. Tydens ‘n streekstydren in die omgewing van Belfast, het die Corsa soos ‘n steeks donkie vasgesteek met die gevolg was dat Simpson-hulle sowat vier keer gerol het, wat die einde van die geel tydrenmotortjie beteken het. Simpson-hulle het darem ongedeerd daarvan afgekom.

Eddie Simpson met sy Opel Corsa tydrenmotor is ‘n gewilde gesig onder plaaslike motorsportgeesdriftiges, en hy gaan sy opwagting vir deelname aan die tydren op Tzaneen op 20 en 21 Augustus maak.

“Ek het destyds op my tweedehandse-vloer van my handelaarskap ‘n nuwe generasie Corsa gehad wat sowat 300 000km op die kilometerlesing gehad het. Ek het toe die Corsa gekoop en in ‘n tydrenmotor omgebou. Die engin van die afgeskryfde kar was nie beskadig nie en ek het dit net so oorgebou in die nuwe kar in.”

Op die vraag of dit grens aan waansinnigheid om feitlik blindelings op ‘n onbekende grondpad, Suid-Afrikaanse tydrenne word hoofsaaklik op grondpaaie beslis, af te jaag, het Simpson vir ‘n wyle gedink en toe glimlaggend geantwoord:

“As jy aanmeld vir die eerste punt van ‘n tydren, voor ek wegspring, is ek skrikkerig, dis nogal ‘n vreesaanjaende gevoel. Maar sodra jy eers op spoed is, skop die adrenalien in en ‘n mens vergeet as te ware van die vrees. Mens raak byna verslaaf daaraan. Toe ek nog gereeld aan tydrenne deelgeneem het, kon ek werklik nie wag vir die volgende rondte om plaas te vind nie.”

>