Theuns Joubert en Schalk van Heerden.

Tydrenspanne sowel as die organiseerders van die NTT Motor Group Tydren op Tzaneen, gaan hierdie week in spanning vir Sondagaand, die 11de Julie, wag. Dis nou wanneer president Cyril Ramaphosa die jongste verwikkelinge van die pandemie gaan aankondig.

En of die inperkingsmaatreëls verslap gaan word. Luidens gerugte vanuit Gauteng wat tans op vlak 4 van die inperkinge is, is daar sterk twyfel of hierdie inperkings gelig gaan word. Die vlaag van infeksies is volgens die regering nog nie onder beheer na wat verneem word nie, en dit laat ontstaan die moontlikheid dat die inperkinge met ‘n moontlike 21 dae verleng kan word.

Tydrenstof gaan eersdaags op Tzaneen toesak, mits dit nie reën nie.

Indien die inperkinge dus verleng sou word, sal die organiseerders van die tydren nie die geleentheid afstel of kanseleer nie, maar eerder aanpas. Afgesien van die organiseerders is ook ‘n swetterjoel van die spanne vanuit Gauteng afkomstig. Die organiseerders kan op hierdie tydstip geen reëlings bevestig nie totdat hulle gehoor het of die aandklokreël dieselfde gaan bly en of dit moontlik verander gaan word.

“Sou die aandklokreël weer 22:00 of later word, sal ons ‘n tradisionele tydren aanbied met nag sneldele. Indien dit 21h00 of vroeër is, sal die tydren slegs in die dag beslis word”, volgens Theuns Viljoen wie een van die organiseerders en roetebeplanners vir die tydren is.

Die snelbane

Volgens Viljoen is daar vir 12 sneldele beplan vir die NTT Motor Group Tzaneen Tydren wat na 20 en 21 Augustus verskuif is. Die eerste vier sneldele sal die Vrydag op grondpad beslis word met die laaste sneldeel van die dag wat op teer gejaag gaan word. Op beide dae sal die teer sneldeel die laaste uitdaging vir die dag wees.

Theuns Joubert en Schalk van Heerden sal wil hoop om weer stof in hul teenstanders se oë te skop.

Die tweede dag van die tydren sal oor ses grond sneldele beslis word met die laaste trajek oftewel sneldeel wat op teer gejaag sal word. Volgens Viljoen is die beoogde afstande van die sneldele sowat 140km.

“Die aard van die sneldele is soos in die verlede met roetes om Tzaneen Dam en ondermeer die gewilde kanaalroete. Ek het egter twee nuwe sneldele in Agatha vir hierdie jaar se tydren bygevoeg wat baie tegnies is”, het Viljoen gesê.

“Hierdie nuwe sneldele was sowat 20 jaar gelede gebruik, toe ek nog self aan tydrenne deelgeneem het, en hier glo ek gaan die manne van die seuns geskei word. Die padoppervlaktes is oor die algemeen baie goed.”

Van die plaaslike grondeienaars, ondermeer Hans Merensky en Groter Tzaneen Munisipaliteit, het ingestem om die roetes wat gebruik word te skraap. Dit meen die deelnemers gaan op sneldele jaag wat nie te rof is op hulle tydrenmotors nie. Enige geskraapte grondpad skop egter normaalweg meer stof as gewoonlik op, en veral as mens voluit daarop jaag kan dit nogal ‘n uitdaging vir die volgende tydrenspan op die roete wees. Maar ‘n geskraapte grondpad, so aangenaam as wat dit is as dit droog is, kan ‘n heel ander benadering noodsaak indien dit sou reën.

Onthou julle nog?

Wie sou ooit vergeet hoe die voormalige Suid-Afrikaanse tydrenkampioen, Serge Damseaux en Vito Bonafede, in hul fabrieksingeskrewe Toyota Conquest in ‘n sopnat sneldeel van die Tzaneen-tydren in 2001, toe die tydren nog deel was van die nasionale kampioenskapsreeks, die voortou moes opgee weens ‘n pap band?

Dié Toyota-tydrenspan het inderwaarheid gespartel om die wiel omgeruil te kry aangesien die domkrag bly wegsak het in die modderspul. Die gevolg was dat Damseaux-hulle moes toekyk hoe ‘n byna versekerde oorwinning deur hulle moddervingers glip. Die tydren was toe uiteindelik gewen deur ‘n private-tydrenjaer, naamlik Johnny Gemmel in ‘n Subaru Impreza.

Na Damseaux se uittrede uit tydrenne na 2007, was Gemmel die voorste kandidaat om hom te vervang en was hy toe die uiteindelike keuse vir die Toyota Handelaarspan. Maar hy was nie so suksesvol as die uitgetrede Belgiese-gebore Damseaux nie.

Theuns Joubert en Schalk van Heerden in aksie.

En wat van toeskouers?

Viljoen het gesê weens die huidige Covid-19 toegewings moet toeskouergetalle beperk gehou word, maar het bygevoeg dat niemand ‘n persoon werklik kan keer wat op ‘n sypaadjie in die dorp staan om na die skouspel te loer nie. Of selfs ‘n ‘entjie in die bos gaan stap nie’.

Die jongste nuus oor die inskrywings, mits Covid-19 weereens ‘n stokkie daarvoor steek, is dat daar drie internasionale tydrenspanne vanuit Zambia ontvang is, wie almal met Subaru Impreza tydrenmotors gaan deelneem. Die organiseerders het wel gemaan dat veranderings moontlik nog kan plaasvind en die deelnemers sal vroegtydig van die jongste verwikkelinge in kennis gestel word.

Theuns Joubert en Schalk van Heerden behoort een van die spanne te wees wat eersdaags stof gaan opskop in die NTT Motor Group Tzaneen Tydren.

Bulletin het ook eerstehands Donderdag die 8de Julie die inskrywingslys vir die NTT Motor Group Tzaneen Tydren ontvang. Na wat verneem word, het 32 spanne oftewel tydrenmotors vir die geleentheid ingeskryf. Volgens Viljoen is dit die grootste hoeveelheid inskrywings nog wat vir ‘n tydren van die WOMZA Nasionale Tydrenkampioenskap hierdie jaar ontvang is.

>