Alle klub rugby, wedstryde en oefeninge in Limpopo word weens die impak en verspreiding van Covid-19 infeksies met onmiddelike effek tydelik opgeskort. Foto: Roelof de Jonge

Net toe klubrugby in Limpopo uiteindelik weer aan die gang begin kom het, het die nuus Maandag die 21ste Junie gebreek dat alle klubrugby tydelik opgeskort gaan word weens die jongste vlaag van die Covid-19 pandemie. Hoe lank hierdie tydelike opskorting van krag gaan wees, is egter nog nie duidelik nie.

“Na beraadslaging met Henri van Aswegen, die adjunk president vir die Limpopo Blou Bulle in Polokwane, dien hierdie as ‘n amptelike bevestiging dat alle klub rugby, wedstryde en oefeninge, in Limpopo weens die impak en verspreiding van Covid-19 infeksies regoor die hele provinsie met onmiddelike effek tydelik opgeskort word”, het Attie Buitendag, bestuurder van ama-teur- en klubrugby van die Limpopo Blou Bulle Rugby Unie Maandag (21ste Junie) bekend gemaak.

Volgens Buitendag sal die impak en omstandighede van die pandemie op ‘n latere stadium deur die BBRU-Limpopo se kompetisie komitee en uitvoerende komitee geneem word.

“Aanpassings op die liga bepalings sal ook gemaak word en sal eersdaags deurgevoer word.”

Buitendag het klubs se bestuur en spelers bedank vir hul begrip en ondersteuning. Hy het gesê die besluit is uitsluitlik daarop gemik om die veiligheid en gesondheid van die spelers en die gemeenskap as prioriteit te bestuur.

>