Die einde is feitlik in sig vir Cor van Heyningen, wie hier saam sy dogter Tessa en talle vriende die laaste paar meters van die 90km tog aanpak. Foto: Roelof de Jonge

‘Dit was baie taai, ek’s gedaan. Dit was fantasties maar dit was beslis nie maklik nie”.

Dit was die woorde van Cor van Heyningen. Hy was een van Tzaneen se atlete wie Sondag se 90km weergawe van die Comrades Marathon se Centenary Hope Challenge gehardloop het. Effektief was dit ‘n virtuele geleentheid waarvan die werklike weergawe weens die Corona virus weereens opsy geskuif moes word.

Die groep vriende, mede-atlete, familie en fietsryers het almal soos een bankvas agter Cor van Heyningen gestaan. Foto: Roelof de Jonge

Van Heiningen tesame met die talle plaaslike atlete van Tzaneen en omgewing, moes weereens vanjaar maar liefs van ‘n deelname aan die Comrades Ultra Marathon vergeet. Hy het tesame met sy dogter Tessa en hul onder-steuners soos duisende ander ultra-marathon atlete van regoor Suid-Afrika, en ander dele van die wêreld, aan die sogenaamde Eeufeeswedloop van die Comrades Ultra Marathon gehardloop.

Van Heyningen het die 90km Centenary Hope Challenge in ‘n tyd van 10:59.37 voltooi. Nog ‘n plaaslike atleet van Tzaneen Marathonklub wie vir die 90km wedloop ingeskryf het, Alicia van Zyl, het met die ondersteuning van manlief, Brent, die afstand in ‘n tyd van 10:19.15 voltooi.

Brent en Alicia van Zyl tydens hul deelname aan Sondag se Comrades Centenary Hope Challenge.

Van Zyl het gesê dat haar man wel die 45km afstand van die Centenary Hope Challenge gedraf het en hy het die wedloop in ‘n tyd van 06:31.49 klaar gemaak. Die res van die wedloop het hy sy vrou tot by die eindpunt ondersteun. Neill Kelder, ‘n atleet van Solidariteit Atletiekklub van Phalaborwa, het sy 90km tog Sondag vanaf Phalaborwa na Hoedspruit toe aangepak en met sukses voltooi.

Greta Bekker van Le Club sportklub op Tzaneen het weereens saam met haar vriendin, Busisiwe Nyabana, die 45km afstand aangepak. Bekker het in ‘n tyd van 05:08.00 die eindpunt bereik. Nyabana wat ‘n tyd van 05:12.00 opgestel het, het egter gesê dat sy wel verder as die bepaalde 45km afstand gehardloop het en dat sy inderwaarheid 57km afgelê het.

Neill Kelder, ‘n atleet van Solidariteit Atletiekklub van Phalaborwa, het ook ‘n uitdagende 90km afstand van die Comrades Centenary Hope Challenge aangepak en dit suksesvol voltooi.

Nog ‘n fikse persoon uit Tzaneen se geledere wie Sondag die pad aangedurf het vir die 21,1km roete van die eeufees Comrades, was Laerskool Tzaneen se leerkrag, Steven Cremore. Die onderwyser het sy wedloop in ‘n tyd van 01:56.09 kaf gedraf. Alhoewel tientalle atlete van Tzaneen en omgewing gehardloop het aan Sondag se eeufeesviering wedloop van die Comrades, het nie al die atlete amptelik op die Comrades se webwerf daarvoor ingeskryf nie en het hulle bloot vir die pret deelgeneem.

Vanjaar se afgestelde Ultra Comrades Marathon het nogal so ewe in die roemryke jaar van die Comrades se honderdste bestaansjaar gebeur. Vir gelowige marathon atlete is hierdie byna ‘n heiligdom vir hulle en die feit dat die coronavirus weer die oorsaak is dat vanjaar se Comrades Ultra Marathon weereens opsy geskuif word, was verseker ‘n bitterpil om te sluk.

Atlete was dus genoop om in klein groepies of alleen op hul eie roete aan vanjaar se Comrades Marathon Centenary Hope Challenge wedloop deel te neem. Mense wat nie ‘n begrip het van padwedlope of marathons nie, sal dalk dink dat dit ‘n gekkespul is om ‘n mens se liggam so uit te mergel. ‘n Marathon-atleet spandeer ongelooflike lang ure, veral na uurs en oor naweke, om hul voor te berei en om te kwalifiseer om aan die Comrades Ultra Marathon deel te neem.

Selfs vir die ondersteuners wie bankvas langs roetes by marathons hierdie atlete aanpor, is hierdie ‘n geweldige terugslag. Dalk nie soveel as vir die organiseerders wie vanjaar se Comrades Ultra Marathon moes laat vaar het nie.

>