Die gevreesde groen boks wat Tzaneen motoriste se humeure deur die dak laat styg het, is nou nie meer nie. Oor die afgelope drie jaar het hierdie spoedkamera langs die R71 net verby die Tzaneen Lifestyle sentrum, langs die selfde pad net verby Lushof, en ook op die Nkowankowa-pad verby die ou MacDonald’s padstal, boetes vir motoriste wat die spoedgrens oortreë het, verseker.

Bulletin het intussen gemerk dat hierdie kamera die afgelope tyd nêrens te vinde was nie en het met ‘n betroubare bron na aan die munisipaliteit gaan aanklop om agter die kap van die byl die te kom. Volgens ons bron het die munisipaliteit se vorige verkeershoof ‘n kontrakteur aangestel om spoedwetstoepassing deur middel van die “groen boks” kamera te behartig.

“Hoe dit gewerk het was dat die kontrakteur R86 per foto ontvang het. Dit was ongeag of daardie foto ‘n nommerplaat gevang het of nie. Die fotos is dan deur die munisipaliteit gebruik om die uitstaande boetes in te samel.

Dit het egter nie verloop soos daar aanvanklik verwag is nie, want die kontrakteur is R1,5 miljoen ‘n maand betaal vir die foto’s, maar die munisipaliteit kon slegs R100 000 ‘n maand insamel.

Op hierdie stadium is daar sowat R50 miljoen in uitstaande boetes wat nog ingesamel moet word,” het ons bron beweer. “Gaan vra die munisipaliteit, hulle sal jou sê.”

Verder het die bron bekend gemaak dat die kamera slegs vir 40% van ‘n skof gebruik kon word, maar dat die kamera daagliks sowat 12 ure lank gewerk het. “Dit was teenstrydig met die instruksies wat aan die verkeersdepartement deurgegee is.

Verkeersbeamptes werk in agt-uur skofte. Die reëlings was dat die kamera drie ure hardloop per skof en die res van die tyd sou die verkeersmanne self die wette toepas. Dit het nie gebeur nie, so die kamera het party dae tot 12 ure elke dag gehardloop.”

‘n Maand terug, in Mei hierdie jaar, het Thapelo Matlala, die GTM se munisipale bestuurder die dienskontrak met die kontraketeur Mavambu, na drie jaar beëindig. “Dit was ‘n maand tot maand kontrak, en die groen boks is verwyder.

Al die administratiewe prosesse gekoppel aan daardie spoedkamera is in lyn met die strafwet gewees, maar die munisipaliteit kon nie die boetes invorder nie, so dit het nie sin gemaak nie. Die verkeersbeamptes het ook nie hul werk gedoen nie want die kamera was daar. Dit het opsigself ander probleme begin veroorsaak.”

Ons het navrae aan die munisipale segsman, Neville Ndlala, gestuur. Ons wou by hom uitvind of die gerugte van regstappe deur die kontrakteur teen die munisipaliteit enige water dra, en of die motoriste wat nog uitstaande boetes het, nog hierdie boetes moet betaal aangesien boetes na drie jaar geskrap word. Teen druktyd het ons nog geen kommentaar van hom af ontvang nie.

>