Die Macadamia Aftree-oord Vriendskap Sirkel se lede spog trots met die swetterjoel brei- en hekelwerk wat Donderdag die 10de Junie aan die SAVF oorhandig is. Van links is Elize Theunissen, Lilian van Reenen, Gayle Harvey, Annatjie van Rhijn, Elza Grobbelaar (SAVF verteeenwoordiger), Joey Pretorius, Daphne Heinman en Nelia Goodes.

Die Vriendskap Sirkel van Macadamia Aftree-oord op Tzaneen se vrouelede onder die voorsitterskap van Gayle Harvey, het die afgelope paar weke fluks gebrei en gehekel om te sorg dat hul handewerk betyds vir die Winter aan behoeftige mense geskenk kan word.

Die groep afgetrede vroue by dié aftree-oord het hul trotse handewerk aan die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie Tzaneen (SAVF) oorhandig. Elza Grobbelaar, ‘n verteenwoordiger van die SAVF Tzaneen-tak, het die netjiese handewerk op Donderdag die 10de Junie in ontvangs geneem.

Volgens Grobbelaar sal die gebreide items aan behoeftige mense gegee word soos die nood voorkom, veral nou dat die Winter behoorlik sy kloue uit het. Sy het gesê die res van die ander items sal opsy gebêre word vir die Kersfeesseisoen later vanjaar wat ideale geskenke aan behoeftige mense sal wees.

Onder die handewerk is allerlei komberse, gebreide speelgoed, truie en kopmusse. Volgens Harvey is die Macadamia Vriendskap Sirkel uitsluitlik vir pesone van hierdie aftree-oord.

“Ons is reg deur die jaar besig om items te brei wat dan aan behoeftiges geskenk word. Die wol word of deur die gemeenskap geskenk, maar ons kry dit hoofsaaklik van Macadamia se bestuur af wie wol aankoop soos die aanvraag ontstaan.”

Harvey het egter benadruk hoe hierdie groep weldoeners se getalle wat op ‘n tydstip meer as 30 lede sterk was, die afgelope twee tot drie jaar gekwyn het weens mense wat bloot weens ouderdom afgesterf het. Vir dié voorsitter is dit wel ‘n baie teer saak om lede van hierdie vriendskapsirkel te verloor.

Mense en ondernemings wat graag hierdie projek van die Macadamia Vriendskap Sirkel wil ondersteun met bydrae om wol aan te koop of selfs wol te skenk, kan vir Gayle Harvey by 083 290 9626 skakel.

Sy het genoem dat hulle beslis nie ‘n gegewe perd in die bek kyk as dit by skenkings kom nie en is baie dankbaar vir die openhartige gebaar, maar dit is soveel meer aangenaam om met hoë kwaliteit oftewel nuwe wol te kan brei. Dit verseker ook dat die gebreide items van ‘n baie hoë gehalte is en ‘n langer lewensduur het.

>