Toni Masedi vang die bal met Nicky Mokgoloboto wat toekyk. Foto's: Roelof de Jonge

Die geesdrif het Saterdag die 5de Junie onder die spelers van Letaba Rugbyklub hooggeloop, te midde van die snerpende koue, toe dié spanne vir hul derde rondte ligawedstryd van die jaar op hul tuisveld gespeel het.

Tony Masedi en Floyd Baloyi.

Die eerste-, tweede- en derdeligaspanne het teen die 15-talle van Potgietersrus slag gebied. Die eerstespanne het mekaar behoorlik in die hoofwedstryd opgekeil. Teen halftyd het die besoekers met 5-3 voorgeloop wat getuig van die klipharde stryd waarin die twee spanne gewikkel was.

Peter Blessie oppad na die doellyn toe.

Potgietersrus het egter in die tweedehelfde hul voorsprong gerek om uiteindelik die gashere met 33-17 te klop. Letaba se drieë vir die wedstryd was deur Wikus Swart (junior) en Sidwell Kubayi gedruk. Die tuissspan se stelskopper, Zian van der Heever, het met een strafskop en twee doelskoppe pale toe geslaag.

Musa Mathabela met Hope Bureni en Peter Blessie.

Volgens Jaco Moller, een van die afrigters van Letaba se eerste- en tweedespanne, het die eerstespan ‘n loslootjie hierdie komende naweek waarop hulle dan op die 19de Junie na Mokopane moet reis om teen Potgietersrus te speel. Moller het gesê alhoewel hulle eerstespan vasberade is om die bordtjies op Potgietersrus se tuisveld te verhang, gaan dit geensins ‘n maklike taak wees nie.

Luan Labuschagne en Gideon Madiba.

Die onmin tussen van die spelers in Potgietersrus se tweedespan oor ‘n glipsie wat hulle ‘n drie gekos het in die eerstehelfde het seersekerlik tot hul nederlaag teen Letaba bygedra. Na die oepsie het die sluise van drieë vir Letaba geopen. Letaba se 15-tal het uiteindelik breëbors van die veld gestap na hul oortuigende oorwinning van 41-21.

Kulani Chabalala van Letaba se tweedespan druk oor vir een van sy span se talle drieë.

Die tuisspan se drieëdrukkers in die tweedeliga-stryd was Doran Kleynhans, Gideon Madiba wie twee keer agter die pale gaan druk het, Khutso Terwey, Eugene van der Heever, Dean Ballantyne en Christo van der Merwe. Gideon Labuschagne het die stelskoppe waargeneem en het met 3 uit 7 skoppe geslaag.

Gideon Madiba van Letaba se tweedespan bokspring met die bal vir ‘n drie na ‘n Potgietersrus-speler verkwis het om die bal op te raap kort voor hul doellyn.

Die derdespan van die Letaba het behoorlik ‘n tweestryd met Potties se span gevoer. Dit was uiteindelik die tuisspan wat daarin kon slaag om die knoop deur te haak deur die wedstryd nouliks met 22-17 te wen. Die drieë vir Letaba was deur Tony Masedi, Gideon Modiba, en Surprise Monyela gedruk. Masedi het vir nog verdere punte vir sy span gesorg deur twee doelskoppe oor te klits en met ‘n strafskop pale toe geslaag.

Doran Kleynhans, Christo van der Merwe en Kulani Chabalala op die aanval doellyn toe vir Letaba se tweedespan.

“Die bestuur en spelers van Letaba Rugbyklub wil graag ook vir OK Minimarket Sugar Stores bedank vir die borgskap en dit word op die hart gedra. Die jongmanne van twee van Tzaneen se hoërskole wie vir ons op die veld gedraf het, julle het verseker ‘n groot impak tot ons eerste- en tweedespanne gemaak”, het Moller gesê.

Dean Ballantyne van Letaba Rugbyklub se tweedespan in aksie teen die span van Potgietersrus Rugbyklub.
>