Die Beste Swemprestasie van die Gala vir seuns het aan Marnus Kruger gegaan. Foto's: Verskaf

As leerlinge nie kan meeding in rugby, netbal, hokkie of sokker nie weens die verbod op alle kontaksport by skole in ‘n poging om ‘n uitbreek van die Covid-19 virus te verhoed, dan swem hulle om aktief te bly.

Die Beste Swemprestasie van die Gala vir meisies was aan Yvonne Botha oorhandig.

Dis presies wat die leerders van die Hoërskool Ben Vorster gedoen het toe hulle aan dié skool se jaarlikse interklas-swemgala verlede week deelgeneem het. Op Maandag die 31ste Mei het die junior swemmers deelgeneem en die volgende dag, Dinsdag die 1ste Junie, het die senior swemmers hul geleentheid vir deelname gekry.

Elné Haynes was die wenner van Junior Victrix Ludorum en die Junior Victor Ludorum was aan Jason Loucao toegeken.

Marnus Kruger was een van die uitblinkers van die gala en veral sy deelname aan die 50m vryslag-item in die seuns ope-afdeling het die oë laat rek. Kruger het met ‘n tyd van 26,64 sekondes hierdie item gewen en hy het die toekenning vir die Beste Seuns Swemprestasie van die Gala daarvoor ontvang. Hierdie blitstyd het aan Kruger die Senior Victor Ludorum-toekenning besorg.

Nog ‘n swemmer wie die kollig gegaps het met haar prestasies was die senior swemmer, Yvonne Botha. Sy het in die afdeling vir meisies o/16 in die 50m rugslag-item die stophorlosie op 35,66 sekondes tot stillstand laat kom toe sy eerste die swembad se rand geraak het. Dit het aan Botha die toekenning vir die Beste Meisies Swemprestasie van die Gala besorg. Om die prestasie te kroon het sy ook die Senior Victrix Ludorum ingepalm.

Die Senior Victor Ludorum wenner, Marnus Kruger saam met Yvonne Botha wie die Senior Victrix Ludorum ontvang het.

Die Junior Victrix Ludorum was aan Elné Haynes toegeken en Jason Loucao was die swemmer wie se naam vir 2021 op die Junior Victor Ludorum toekenning gaan staan. Die koshuis-span was met ‘n puntestand van 713 punte as die algehele wenspan bekroon. Die volgende skoleswembyeenkoms waarvoor Ben Vorster se swemmers hulle inrtussen gaan voorberei is
die Interhoër Swemgala. Hierdie gala word vanjaar op die 13de September by die Hoërskool Merensky aangebied.

>