Die Hoërskool Merensky se bekende kunsteskool, die MDDK, het met die vertoning van ‘n uitmuntende produksie genaamd Onder Konstruksie van die 18de tot die 20ste Mei bewys waarom hierdie skool in Limpopo bekend staan as ‘n plek waar kultuur koning kraai.

Volgens die skool se bemarkingsbestuurder, Louis du Preez, is die konsep, teks en rolspelers ontwikkel vanuit eie bodem. Onder die meesterlike hand van die regisseurs, Anriette van Wyk en Martinette Muller, het 21 akteurs, vier sangers en 25 dansers die gehoor in vervoering gehad.

Altesaam 14 van die talentvolle MDDKaners het die gehoor reeds buite die saal ‘n voorsmakie gegee wat die res van die vertoning vir hulle gaan inhou. Die gepaste tema, ‘n klein bietjie goedhartigheid verrig wonders, het die gehoor tot nadenke gestem. Die produksie is vanweë Covid-19 se inperkings oor drie aande met ‘n klein gehoor gedeel.

Opwindende nuus is dat daar ook binnekort ‘n verfilmde weergawe van die verhoogproduksie beskikbaar gaan wees. Belangstellendes kan nou reeds na die voorskou kyk op die Merensky se Youtube-kanaal, MHS Plasies.

>