Andy en Sharon Greenwood en Hans Laufs het die afgelope naweek se ATKV Eiland Rolbaklub se NTK Letsitele-kompetisie gewen. Nardus Buys, die bestuurder van NTK Letsitele, en Naas Gouws, president van die ATKV Eiland Rolbalklub, het die pryse aan die wenners oorhandig.

Die ATKV Eiland Rolbalklub se spelers was Saterdag die 22ste Mei weer goed op dreef tydens die Noord Transvaal Kooperasie (NTK) Letsitele gemengde pare rolbalkompetisie. Die doodsnikke van laasweek se koue front vanuit die Kaap het uiteindelik sy opwagting in die binneland gemaak die afgelope naweek met die laevelders wat narstigtig die winterjassies nader getrek het.

Die koue weer kon nie die deelnemers van stryk af bring nie en dit was uiteindelik die span van Andy en Sharon Greenwood, wie saam met Hans Laufs kragte gespan het, wat met die wenners-louere beloon was. Tulli en Nelia de Beer tesame met Jurie Blom het die tweedeplek ingeneem met hul spanvertoning.

Die span van Johan van Wyk, August Bohmer en Corna Visser was die spelers wie die derdeplek se prys opgeraap het. Volgens Karen Kruger, skakelbeampte van die ATKV Eiland Rolbalklub, word daar deur die week verskeie kompetisies vir die vakansiegangers aangebied.

“Ons het al die beginnerspelers en gemengde pare se spel reeds afgehandel. Ons is huidiglik besig met die enkelspel vir vrouespelers en dan sal die gemengde-vierspel volgende week (eerste week van Junie) begin.”

“Saterdae se kompetisies is hoofsaaklik geoogmerk vir borgdae kompetisies en dit wissel tussen drie- en vierspel wedstryde, afhangend van hoeveel spelers opdaag om te speel.”

“Dusver was daar soveel belangstelling, dat ons twee sessies per dag moet hou om almal te huisves. Wanneer daar ‘n oop tyd is tussen die kompetisies en saans vanaf 17:00, word die baan beskikbaar gestel vir spelers wat graag sosiaal wil speel.”

“Rolbal opleiding word ook aangebied vir be-ginnerspelers. Wat nog voorlê is kompetisies vir Eiland Rolbalklub se lede en dan natuurlik die jaarlikse Sitrus-toernooi wat weer in Augustus gehou sal word. Woensdae is die rolbalklub se deure gesluit.”

Vir navrae aangaande die ATKV Eiland Rolbalklub en hoe om betrokke te raak kan mense die klub se skakelbeampte, Karen Kruger, by 072 876 1246 skakel.

>