‘n Avokadoeboer en sy 23-jarige seun het Maandagmiddag skuins na vyf ‘n ontmoeting met die doodsengel oorleef toe ‘n enkele gewapende man op hul voertuig losgebrand het. Volgens die man wie anoniem wil bly, was hy die middag in die dorp doenig. Sy seun en dogter was op hul plaas in die Deerpark-area bedrywig.

“My seun het my gebel en gesê hy kort mediese hulp. Hy was doenig in die skuur met ‘n elektriese slypmasjien toe die lem sy hand raak gesny het,” vertel die man. “Ek het hom gesê hy moet homself solank gaan netjies maak sodat ek hom kan gaan haal en hospitaal toe vat vir so paar steke.”

Die man het by die plaashuis gestop, sy seun gelaai en dadelik weer gery. Die plaaspad vanaf die huis tot onder by die teerpad is om-en-by ‘n kilometer in lengte. Daar is twee hekke, een bo, en een verder af in die pad.

“Toe ons deur die eerste hek is merk altwee van ons ‘n man wat stadig langs die grensdraad op gestap kom. Ek kon sien dat die man ‘n blou “hoodie” aangehad het, maar ek het niks in sy hande gesien nie.

Hy was so 600 meter van ons voertuig af. Ek het stadig gery om te sien wat aangaan en toe die man opkyk en my sien, het hy omgedraai en stadig weer af ondertoe na die hoofpad se kant begin stap. Ek het gedink dit lyk baie verdag. Hy het iets onder sy baadjie weggesteek en dit het my laat dink dat hy avo’s op my plaas kom steel het.”

Die twee mans het stadig agter die man aangery tot dat hy skielik begin hardloop het.

“My seun sê toe vir my die man het ‘n kierie of ‘n stok by hom en soos wat ons nader kom begin hy vinniger hardloop totdat hy oor die pad gehardloop het en in die Bloekomplantasie gaan skuiling soek het. Ons was nou so 800 meter van die huis af en steeds op my grondpad. Ek het verby gery, gestop en stadig in trurat agtertoe beweeg om te kyk of ek hom kon raaksien.

My seun merk hom toe op waar hy agter ‘n boom skuiling gevat het en ek begin my venster afrol om vir die man te skree sodat hy moet hardloop. My venster was nog nie halfpad oop nie, toe die skote begin klap het.”

Die gewapende man het in ‘n loopgraaf agter die eerste ry Bloekombome sy posisie ingeneem en gewag vir die voertuig om naby hom tot stillstand te kom. Toe die boer sy venster afdraai en sy kop duidelik sigbaar is, het hy op die voertuig begin vuur.

Die eerste skoot het reg langs die bestuurderskant se spieëltjie kontak gemaak en is deur die voertuig se deur waar dit in die stuurkolom ingeboor en vasgesteek het. Die tweede skoot is skoot-hoogte deur die bestuurskant se deur waar dit die boer skrams geraak en sy seun in sy reeds gewonde hand getref het.

“Op daardie oomblik het my opleiding ingetreë en ek het my seun platgedruk, die voertuig in trurat gesit en agteruit teen die bult op terug na my huis toe gejaag. Die skote het bly klap. Ek het my oë op die gewapende man ten all tye gehou en in ‘n s-patroon agteruit gejaag sodat die voertuig soveel as moontlik stof kon opskop en om die voertuig se enjin tussen ons en die aanvaller te hou.”

Die gewapende man het aanhou skiet terwyl hy agter die voertuig aangehardloop het. Van die skote het voor die voertuig in die grond ingeboor en het eers gestop toe die man se vuurwapen gestoor het.

“Ek het gesien sy wapen stoor en het probeer om soveel detail oor sy gelaatstrekke te onthou terwyl ek aanhou ry het. Hy het nie omgedraai en weggehardloop nie, maar het baie kalm gelyk terwyl hy die situasie met sy wapen probeer regmaak het. Hierdie ou was nie net sommer ‘n kansvatter nie. Dit is my opinie dat hy opleiding iewers ontvang het. Hy KON skiet.”

By die huis aangekom het sy dogter vir hom sy vuurwapen aangegee, nog een vir haar broer gegee en self een gevat en hulle drie het dekking binne in die huis geneem. Vandaar het hulle hul omgewing gefynkam vir enige beweging totdat die plaaswag en polisie op die toneel opgedaag het.

“Toe die man se geweer stoor en hy sukkel om die probleem op te los, het ek duidelik die opslaan kolf van ‘n R5 outomatiese masjiengeweer gesien. Die doppies wat by die toneel opgetel is het my observasie bevestig.”

Die gewapende man het op die vlug geslaan en polisie en sekuriteitsbeamptes het tervergeefs tot laat daardie nag vir hom in die omgewing gesoek. Hy is teen druktyd steeds op vrye voet.

Die boer het ligte beserings aan sy dy en voorkop opgedoen van die skrapnel van sy voertuig se deur wat deur die patrone veroorsaak is, en sy seun het steke aan die wond op sy hand gekry.

Beide is terug by die huis. Met die ondersoek is daar duidelik gemerk dat die nege rondtes wat die voertuig getref het, se trajek almal die bestuurder van die voertuig se sitplek kruis.

>