old road running into dam
Die Tzaneendam is nou mooi vol en die nuwe inperkingsregulasies maak dit moontlik vir hengellaars om die waters in te vaar - maar nie in Tzaneen nie. Jetty 3 is steeds gesluit vir die publiek.

Daar is steeds geen duidelikheid oor wanneer presies die gewilde Jetty 3 vir die publiek oop gemaak sal word nie. Dit ten spyte van die nuwe inperkingsregulasies wat alle openbare parke en terreine weer vir die publiek beskikbaar gestel het. In verlede week se uitgawe het ons berig dat die Tzaneense munisipaliteit nie oor die nodige mannekrag besit om die terrein veilig vir die publiek te open nie.

Volgens die GTM se segsman, Neville Ndlala, was daar ‘n tekort aan personeel wat dit onmoontlik maak om die terrein se hekke vir die publiek in lyn met die Covid-19 regulasies oop te maak. Hy het ook beweer dat daar binnekort ‘n bestuurspan of kontrakteur aangestel sou word, maar daar is geen spertyd vir hierdie proses voorgelê nie.

Hierdie het groot konsternasie onder plaaslike hengellaars en bootliefhebbers veroorsaak wat nie meer toegang tot die Jetty kon verkry om hul bote vanaf te loots nie. As gevolg daarvan het meeste

boot-eienaars hul na die damwal by Tzangeni gewend vanwaar hulle oor naweke die prag van die vol Tzaneen dam kon geniet. Dit het weer ander probleme tot gevolg gehad in dat groot getalle jongmense ook hierdie spesi­fieke plek oor naweke vir dronk partytjies benut.

Tower dam Jetty sign post warning
Die bekende uitkykpunt reg langs die oewer van Tzaneendam by Jetty 3, word nou deur ‘n hawelose man bewoon. Maar Hengellaars en skiboot-eienaars mag nie soontoe gaan sonder ‘n permit nie. Foto: Joe Dreyer

Daar was gevalle reeds gemeld waar van die jong suipers, die hengellaars se voertuie langs die wal as rusplek benuttig of selfs probeer het om op die bote te spring. Konflik tussen hierdie twee groepe is deur die ingryping van plaaslike sekuriteitsmaatskappye net-net vermy.

Bulletin het wéér met Ndlala in gesprek getreë om ‘n moontlike oplossing vir hierdie absurde situasie te bewerkstellig, en te hoor of daar intuseen enige vordering deur die munisipaliteit in die saak gemaak is. “Jetty 3 is steeds toe vir die publiek, maar ons het gehoor gegee aan die klagtes van die plaaslike hengellaars. Boot-eienaars kan steeds die jetty gebruik maar hulle moet eers ‘n permit by die munisipaliteit kom kry wat hulle toegang tot die terrein sal verseker.”

‘n Moontlike oplossing

Ons het later met die munisipale bestuurder, Thapelo Matlala, gesels en ‘n voorstel aan hom gemaak om die Jetty weer aan ‘n plaaslike groep te oorhandig wat die terrein sal onderhou en seker sal maak dat ingangsbeheer en sekuriteit op ‘n funksionele basis beheer sal word. Ons het aan hom genoem dat die terrein, paaie en piekniekbankies by die braai-areas drastiese onderhoud verlang aangesien hierdie duidelik nie in die laaste paar jaar gehandhaaf is nie.

Matlala het erken dat die Jetty vir hom ‘n hartseer punt is en dat hy graag sou wou sien dat die terrein weer tot sy voormalige glorie herstel word. “Ek het verlede jaar tydens die grendelperk die ingangshek met ‘n nuwe een vervang en sou graag wou sien dat daardie hele area weer ‘n ordentlike, veilige hawe vir ons gemeenskap word. Ongelukkig is my prioriteite by die opgradering van die dorp se infrastruktuur en veral die gemors met ons krag en paaie ensovoorts wat baie van my aandag verg. So ek is op hierdie stadium oop vir enige hulp en indien enige groep sou belangstel om betrokke te word in die bestuur van die terrein moet hulle asseblief met my ‘n afspraak reël en ‘n deeglik saamgestelde voorlegging vir my bring. Ek sal verseker enige hulp waardeer en dit sal vir my maklik wees om ‘n ordentlike voorlegging voor die raad te bring om oor te beraadslaag.”

Die bekende sakeman en voormalige Lions Klub president, Muis Joubert, het Bulletin genader met ‘n voorstel om die bestuur van die Jetty 3 terrein, saam met ‘n groep ander plaaslike sakemense, oor te neem.  Joubert was in die laat 90’s die president van die Lions en het in samewerking met ander plaaslike organisasies die Lions se klubhuis gebou en die terrein opgeknap en instand gehou vir baie jare. Hy besit steeds die dranklisensie vir die terrein. “Ons het in daai jare die terrein by die munisipaliteit vir ‘n totale bedrag van R7,62 per maand gehuur,” verduidelik hy. “Die Lions en lede van die gemeenskap het die terrein instand gehou en ons het die klubhuis wat so sewe jaar gelede afgebrand het, op ons eie onkostes opgerig en die jetty verleng. Die Lions het die huurkontrak oorgeneem na dit eers deur Mario Koekemoer gehuur is. Ons het self die heinings reggemaak, na die tuine omgesien en die braaiers en ander fasiliteite opgeknap. Al wat die munisipaliteit gedoen het was die rommel verwydering. Dit het uitstekend gewerk en die hele gemeenskap het daarby gebaat.”

Joubert vertel dat hy en ‘n groep besighede in die dorp aan ‘n voorlegging werk wat hulle aan die munisipale bestuurder sal voorlê om wéér so sisteem in plek te stel. Volgens hom het ‘n sekuriteitsmaatskappy reeds ingestem om die sekeruteit van Jetty 3 gratis oor te neem.

“Ons sal werk maak van die voorlegging en dit so gou moontlik indien sodat die raad daaroor kan besluit. Indien alles in plek val, beoog ons om Jetty 3 weer tot sy volle potensiaal te benut en weer die plaaslike hengel en bootklubs aan die gang te kry.”

>