Nachandré de Lange. Foto's: Roelof de Jonge

Die Hoërskool Ben Vorster het op Woensdag en Donderdag die 3de en 4de Maart sy jaarlikse interhuis atletiekbyeenkoms gehou. Die Covid-19 verwante inperkings waar skoliere vir etlike maande nie aan sport kon deelneem nie, het beslis nie die Vossies se brandende begeerte vir sport en veggees geblus nie. ‘n Aantal van dié skool se atlete het ook dan ‘n aantal rekords laat spat.

Wikus Joubert.

In die afdeling vir meisies o/15 het Megan Lee-Mans die gewigstoot sowel as die diskus-items se rekords herskryf. Sy het ‘n afstand van 11,74m met die gewigstoot-item bereik en het die diskus oor ‘n afstand van 35,85 geslinger om die nuwe rekord agter haar naam te skryf.

Maynard Kleinhans.

Nerise Grobler het in die afdeling vir meisies o/17 ‘n nuwe gewigstoot-rekord van 10,91m opgestel. Zander Rikhotsom het in die 100m hekkies-item vir seuns o/14 die rekord na 15,11 sekondes verbeter. Die 110m hekkies-item vir seuns o/17 se nuwe rekord van 15,01 sekondes behoort nou aan die atleet, Tshego Ramaloko.

Gideon Goosen.

Sean Roulston het in die 110m hekkies-item vir seuns o/19 die eersteplek geneem en sodoende ‘n nuwe rekord van 14,48 sekondes opgestel. Na afoop van die atletiekbyeenkoms was verskeie atlete vir hul prestasies vereer. Die toekenning vir die Beste Junior Meisies Veldatleet was aan Megan Lee-Mans toegeken. Mans het ook die Junior Victrix Ludorum ontvang.

Paballo Legodia.

Nerise Grobler was as die Beste Senior Meisies Veld-atleet aangewys. Isabelle Homan was die Beste Junior Meisies Baanatleet en die kroon vir die Beste Senior Meisies Baanatleet was deur Yvette Mokwena ingepalm. Die Beste Junior Seuns Veldatleet was Juandré Marais en die titel vir die Beste Senior Seuns Veldatleet het aan Tshego Ramaloko gegaan.

Freddy Pinto.

Damian Bye het met die Beste Junior Seuns Baanatleet trofee weggestap. Die toekenning vir die Beste Senior Seuns Baanatleet was aan Sean Roulston toegeken. Die Senior Victrix Ludorum het aan Elsjé Kriel gegaan en die Senior Victor Ludorum was deur Tshego Ramaloko ingepalm. Die Junior Victor Ludorum-toekenning was deur Freddy Pinto verower. Die Atletiekbeker was vanjaar deur die Vyfster Seunskoshuis en die Toekie Dameskoshuis gewen.

Dylan Titus.

>